Vrou sien hoe mans inbreker aanrand
’n Inwoner van Eastdene het deur haar venster gesien hoe ’n groep mans ’n man met stokke en pype aanrand en die man kort daarna “verdwyn” het in ’n ander voertuig.

Die vrou (wat uit vrees vir haar lewe anoniem wil bly) sê sy was gister (Woensdag) besig om gereed te maak vir werk, toe sy ’n kabaal in die omgewing hoor.
Sy het by die venster uitgeloer en gesien hoe ’n groep van vier mans ’n ander man met stokke en pype slaan by die spruitjie in Weeberstraat. Volgens haar het alles baie vinnig gebeur.
Sy het opgemerk dat daar ’n blou voertuig, twee wit dubbelkajuit bakkies en later ook ’n ou model silwer Mercedes op die toneel stop.
“Ek kon duidelik die man in die gras sien lê, terwyl hulle hom slaan.”
Voordat sy nog die polisie kon kontak, het die mans in die voertuie geklim en gery.
“Die man wat op die grond gelê het, kon nog gesien word toe die ander voertuie ry, maar toe die silwer Mercedes ry, was hy skielik skoonveld.” Sy sê alle aanduidings is dat die man in die Mercedes gelaai en hulle met hom weggery het.
• In die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer word berig dat mnr. Dolf Coetzee met sy voertuig in die TWK gebou vasgejaag het, toe hy agter ’n inbreker aangejaag het. Hy en van sy werknemers is daarna te voet agter die booswig aan.
Hy het erken dat hulle die inbreker gevang het, maar het kwaad geword toe die joernalis uitvra oor wat van die inbreker geword het.
Mnr. Coetzee het net gesê dat hulle die inbreker aan Indiërmans oorhandig het en dat hy nie weet of hulle die dief aan die polisie oorhandig het nie.
