Trein tref trok by Berg-en-Dal
’n Koletrein het gisteraand omstreeks 20-15 ’n houttrok, wat se sleepwaens half oor die spoorlyn getrek was, naby Berg-en-Dal langs die N4 getref.

Die trok met twee sleepwaens vol hout, het oor die spoorlyn gery en gestop om die plaashek toe te maak.
Die area vanaf die spoorlyn tot by die N4 is redelik kort en een van die sleepwaens was nog half oor die spoorlyn getrek toe hy uitklim.

Voordat hy weer in sy trok kon klim, het ’n koletrein, wat gelukkig nie met kole gelaai was nie, die sleepwa getref en die trok vir meters ver gesleep.
In die proses het die trein ook ontspoor en het drie eenhede omgeslaan.

Die trokdrywer, wie se naam nog nie bekend gemaak is nie, kon gelukkig daarin slaag om uit die pad van die botsing te spring.

’n Reuse opruimingsproses het laasnag reeds begin en alle aanduidings is dat dit nog tot Vrydag kan voortduur, aangesien die spoorlyn erg beskadig is met spoorstawe wat uitgeruk is. Kragdrade en -pale is ook saamgesleep.

• Treinpendelaars sal terwyl opruimingswerk besig is, per bus by die Belfast stasie opgelaai word en dan vervoer word na die volgende stasie in die rigting van Nelspruit en omgekeerd.

