News

Bakleiers verban

Oor die jare is Middelburg geruk deur een geveg na die ander waar mense tot in die hospitaal geslaan is en nog een (Louis Groenewald) doodgeslaan is.

Die Buiteklub het ‘n streng standpunt ingeneem as dit kom by gaste en lede wat hul vuiste lig, nadat daar twee gevegte in die laaste jaar uitgebreek het.

Johan Holscher, sê dat daar in die drie jaar wat hy bestuurder by die Buiteklub is, slegs die twee voorvalle was waarin mense in fisiese gevegte betrokke was en net ‘n paar waarin mense verban moes word.

In die eerste geval, in September verlede jaar, het Alex Curtis vir Ferdie van den Berg met die vuis bygedam voor die badkamers. Die geveg was na ‘n woordewisseling by ‘n gholfdag.

Alex Curtis

Mnr. Van den Berg moes ‘n operasie ondergaan om sy oog te herstel. Mnr. Curtis, wat twee van sy vingers verloor het toe ‘n klapper in sy hand ontplof het, het ook beweer dat hy sy hand opnuut tydens die voorval beseer het. Hulle het altwee kriminele klagte by die polisie gaan open.

Beide mans is ook van die Buiteklub af verban. Hulle het nie teen die verbanning geappelleer nie en dit geld tans steeds.

•In Maart vanjaar is Desiree Pycke deur Stanley Jones gekonfronteer, nadat sy vrou, Aletta, met water in die gesig gespuit is. Daar het ‘n geveg tussen die Jones egpaar en me. Pycke uitgebreek waartydens sy beseer is.

Marnelle du Toit

Die Jones egpaar sowel as me. Pycke en haar vriendin, Marnelle du Toit, is na die voorval van die perseel af verban. Mnr. en mev. Jones, sowel as me. Du Toit het teen die besluit geappelleer en sal nou aan ‘n verhoor deelneem om hul saak te stel. Me. Pycke het nie geappelleer nie.

Daar is op hede nog nie ‘n datum vir die verhoor vasgestel nie.

Me. Pycke het destyds ‘n kriminele klag by die polisie gaan open en die Jones egpaar het ‘n waarskuwingsverklaring by hul prokureur gaan aflê. Daar was tot op hede nog geen arrestasies rakende die saak nie.

Mnr. Holscher sê dat dit algemene praktyk by die Buiteklub is, as jy jou vuiste vir iemand gelig het, is jy nie meer welkom nie.

Aletta en Stanley Jones.

Verbande persone kan dan ‘n brief skryf wat ‘n verhoor aanvra. Daar is ‘n komitee wat aangestel is om sulke verhore te hanteer. Tydens die verhoor kry die betrokke partye geleentheid om hul sake te stel voordat die komitee dan ‘n beslissing maak en op ‘n straf besluit.

Daar is ook ‘n appél komitee, wat uit heeltemal ander persone as die verhoor komitee bestaan, waarby iemand wat gestraf is, kan appelleer. Die komitee sal dan deur die getuies wat in die verhoor aangehoor is gaan en besluit of die straf regverdig was.

Dit is selde dat eerste oortreders lewenslank gestraf word en gewoonlik, nadat hulle ‘n verhoor aanvra, bloot vir ‘n tydperk verban word.

Daar is egter nie tweede of derde kanse nie. As jy jou eerste kans verbrou en weer in ‘n geveg betrokke raak, sal jy die Buiteklub vir oulaas moet groet.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button