Vrou sien hoe fiets gesteel word
’n Vrou was vanoggend die ooggetuie toe ’n man oor ’n hek klim en met ’n fiets wegkom.
Me. Corné du Plessis kan steeds nie glo dat die booswigte so maklik, helder oordag, ’n fiets gesteel het nie.
Sy het omstreeks 08:40 na buite gestap om te gaan rook, toe sy beweging by een van die mense laer af in die straat (Mercury Singel, Mineralia) se huis sien.
“Ek het eers gesien hoe hy voor die hek staan en het aangeneem dit is die tuinman wat wag om in te gaan. Die volgende oomblik het hy oor die muur geklim en sekondes later ’n fiets aangegee vir ’n tweede man wat buite gestaan en wag het.”
Sy het die Middelburg 911/GPF lede laat weet, maar met hul aankoms was hulle reeds skoonveld.
“Die ergste was dat die eienares van die huis in die huis was terwyl dit gebeur het. Ek het vir haar gesê hulle het nou net ’n fiets oor die hek getel. Sy het die kind se fiets gaan soek en besef dit is werklik gesteel.”
Me. Du Plessis sê alles het binne sekondes gebeur. “Ek kom van Phalaborwa af en is dit nie gewoond nie! Ek kon ook nie vir die diewe skree nie, want ek en my kind was op daardie stadium alleen by die huis!”
