News

Reisende muskiete eis waarskynlik omroeper

Die sogenaamde “rondreisende malaria muskiete” het waarskynlik nog slagoffers geëis.

Die bekende omroeper van Radio Kragbron, Jo Smith, het aan malaria gesterf, terwyl hy nie in ’n malariagebied was nie.

Twee inwoners van Pretoria is vroeër die jaar dood aan malaria, alhoewel hulle nie in ’n malariagebied was nie.

’n Jong inwoner van Middelburg, Jo Hoogenboezem (20), word more op die dorp gedenk, nadat hy in die Life Midmed Hospitaal weens malaria gesterf het.

Hy was wel op Tolwe waar hy waarskynlik malaria opgedoen het, maar sy ma, Eldi, sê dit is nie ’n rooi malariagebied nie.

Nog ’n inwoner van die omgewing, Lizette Joubert, is na vyftien dae Saterdag uit die Pretoria Oos Hospitaal ontslaan, nadat sy malaria opgedoen het. Sy is ’n bekende fisioterapeut wat al die Blou Bulle ouderdomspanne, die Pumas en HTS Middelburg eerstespan bygestaan het.

Sewe mense is die afgelope tyd in die Life Midmed Hospitaal vir malaria behandel.

’n Geneesheer van Middelburg, dr Christian Burger, het mense wat ’n malariagebied besoek, intussen gewaarsku om wel voorkomende medikasie te gebruik.

Jo Hoogenboezem

Wat is die simptome van malaria?

Die eerste simptome van malaria verskil nie veel van ’n ligte verkoue nie. As jy nie dadelik (verkieslik binne 24 uur) behandel word nie, ontwikkel dit gou in ’n baie ernstige toestand wat jou lewe kan eis.

Suid-Afrika het van die hoogste malariasterftesyfers ter wêreld.

Die byt van ’n malariadraende muskiet is net soos enige ander muskiet. Jy sal nie meer jeuk nie. Al leidrade is jou simptome, wat na ’n week of twee na die byt kop uitsteek.

As jy na 7-15 dae nadat jy die eerste keer in ’n malariagebied ingekom het die volgende simptome het, gaan dadelik dokter toe:

• koors

• kouekoors

• hoofpyn

• naarheid

Verkouesimptome wat drie weke na jou laaste dag in ’n malariagebied begin, is waarskynlik te wyte aan doodgewone verkouekieme.

Kan jy malaria kry as jy jou medikasie gedrink het?

Ja. Daar is weerstandige malaria, maar jou kanse is baie kleiner as jy op medikasie is. Die beste is om geen kanse te waag nie en dadelik dokter toe te gaan as jy verkouerig is na sewe tot vyftien dae in ’n malariagebied.

•Hoogenboezem se lewe gaan gevier word more (Donderdag) tydens ’n spesiale diens om 11:00 by Shielding Heights Ministries. Hy was besig met studies as pastoor in dié gemeente tydens sy afsterwe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button