Kieries en wiele dagjol
Gaan kyk hoe sit tant Sarie op 'n brullende motorfiets en hoe om Koos agterna hol met sy kierie om ook 'n beurt te kry!

Dit is alweer tyd vir die jaarlikse SAVF Kieries en Wiele Motorfiets dagjol, wat aangebied word op 20 Mei saam met die OHONU Motorfietsklub.
Vanjaar sal dit die derde jaar wees wat motorfietsryers hierdie fondsinsamelingsprojek hou ten bate van die SAVF Tehuis vir Bejaardes.
Volgens tehuisbestuurder, Johan Bosch, sal vanjaar se fondse aangewend word vir die aankoop van nuwe hospitaalbeddens vir die siekeboeg.
Hekke open om 08:00 by die Izak Badenhorstsaal en beloof pret vir die hele gesin. Die hoogtepunt is, soos altyd, die kroning van Mnr. Kieries en Mev. Wiele 2017.
Mnr. Bosch sê die inwoners is reeds baie opgewonde oor die kompetisie en sê die gemeenskap moet hulle kom ondersteun.
Die tehuis sal kerrie en rys, basaarpoeding en pannekoeke, asook hul gewilde kuns- en naaldwerkartikels verkoop.
Daar is egter nog stalletjies beskikbaar teen R100 per stalletjie.
Die toegang vir motorfietsryers is R80, wat ontbyt en ‘n kenteken insluit. Toegang vir die gemeenskap is R20 per persoon.
Plaaslike kunstenaar, Renaldo Greeff, sal vir musiekvermaak sorg.
Vir navrae, bel mnr. Bosch by 082 433 8719 of stuur ‘n e-pos na middelburg.manager@savf.co.za
