News

Swendelaars loop bejaardes in

Swendelaars het met ’n splinternuwe slenter waar hulle hul voordoen as munisipale amptenare, meer as R2 000 van ’n bejaarde egpaar gekul.

Die egpaar (wat verkies om anoniem te bly) sê hulle glo dit is ’n sindikaat wat hulle toespits op bejaardes en hulle dan uit hul pensioengeldjies kul.

Die Steve Tshwete Munisipaliteit het ook gewaarsku dat dit beslis ’n bedrogspul is en dat mense moet weet daar is fout as iemand by hul huise vra vir geld.

“Die munisipaliteit sal nooit na jou huis toe kom en vra dat jy geld vir ’n spesifieke persoon moet oorbetaal nie. Ons maak slegs gebruik van ’n betaalpunt,” sê Prudence Magutle (Steve Tshwete mediawoordvoerder).

Die egpaar sê hulle is gekontak deur ’n ene “Jonathan” wat ’n afspraak gemaak het en gemeld het dat ’n ene Karl Pather of ’n Natasha van Rensburg hulle gaan kom sien by hul huis in Aerorand.

“Pather” het opgedaag met ’n munisipale identiteitskaart, met slimpraatjies vertel dat alle huise met ’n nuwe toetstel toegerus gaan word waarvandaan jy self jou water- en elektrisiteitsrekening kan lees.

Die toestel is R7 000 en die paartjie moes R2 350 kontant as deposito betaal, waarna die “Global Energy toestel” dieselfde dag geïnstalleer sou word.

Hulle het dié bedrag per kontanttjek aan “Pather” uitgeskryf en hom ook vergesel na die bank waar sy munisipale identiteitskaart aanvaar en die geld aan hom oorbetaal is.

Nodeloos om te sê, die span wat die toestel moes installeer, het nooit opgedaag nie.

• Me. Magutle sê daar het verlede jaar ’n soortgelyke voorval ook in Kanonkop gebeur waar ’n bejaarde vrou ook R2 000 kwyt is met so ’n slenter. In hierdie geval het die swendelaars hulle ook voorgedoen as munisipale amptenare.

• Die egpaar het ’n bedrogsaak by die polisie geopen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button