News

O merrie, waar’s die Old Brown sjerrie?

O merrie! Waar's die Old Brown sjerrie? - was die reaksie van inwoners wat sedert Vrydag by drankwinkels aangeklop maar leë hande huiswaarts moes keer.

Op OBS is daar geen kragkostes verbonde nie, dit maak van binne af warm, dit proe bobaas en die Sonde-taks op hom maak nie die bors benoud nie.

Die koue het dié voggies se verkope die hoogte laat inskiet, en ‘n groter bottel is mos maar altyd beter as ‘n kleintjie so die twee liters het dié naweek harder gebrul as Brakpan se 2L Cortinas.

‘n Verdere bonus is dat die promosies met die koue saamkom, en Tops in die Mall sal van die 23ste af ‘n promosie op hul 750 ml bottels hê.

•Tops by die Mall sê dat hulle gedurende wintermaande beslis meer OBS bestel as normaal, want daar is nie beperkte kopers nie, en as dit koud is gryp almal na die ou bruin bottel.

Tops het Maandagmore hul laaste een liter bottel OBS verkoop terwyl die tweeliters Saterdag reeds uitverkoop is.

Dinsdagmore is drie nuwe kaste 750 ml bottels uitgepak voor in die winkel sodat kopers nie hoef te loop en soek na dié goedkoop verwarmertjie nie.

Rooiwyne is ook volgens Tops in die Mall ‘n winter topverkoper.

•Kanonkop Tops was Saterdag vroegoggend reeds uitverkoop aan die 750 ml, een liter en twee liter bottels, maar ‘n soektog in die store op kliënte aanvraag het Maandag drie twee liter bottels opgelewer waarvan die laaste Dinsdagmore uitverkoop is.

Gelukkig is ‘n nuwe besending Old Brown Dinsdag om 12:00 by Kanonkop Tops afgelewer, maar waarsku die bottelstoor, dit vlieg reeds van die rakke.

Hulle het drie bokse een liter bottels en drie kratte twee liter bottels ingekry, maar die volgende bestelling is reeds op die boeke.

•By Blue Label Drankwinkel in Kanonkop het Old Brown sjerrie ook so vinnig van die rakke gevlieg dat daar Maandag geen voorraad was nie.

•Eastdene Liqour sê dat hulle wintermaande tot tien maal die normale hoeveelheid Old Brown sjerrie bestel.

Hulle het reeds ‘n styging in verkope opgemerk en sê dat dié sjerrie die meeste in verkope vermeerder gedurende die winter.

Eastdene Liqour sê dat daar normaalweg tydens die winter ‘n daling van tot 30 % en meer op bier en koue alkoholiese drankprodukte is.

OK Liquor in Meyerstraat waarborg dat daar altyd ‘n stewige voorraad van dié soete nektar is.

“Old Brown verkoop soos soetkoek maar ons maak seker dat ons genoeg bestel sodat daar altyd voorraad is, of jy nou ‘n 750ml, een liter of twee liter verkies, híér is,” sê OK Liquors eienaar Christo Vlok.

• Old Brown sjerrie verkoop al meer as 100 jaar in Suid-Afrika. Dit het ‘n kenmerkende Spaanse Oloroso soetheid wat dit onderskei van ander sjerries. Sedert 2012, volgens Europese Unie regulasies, mag die handelsmerk “Sjerrie” net op produkte uit die Spaanse driehoek van Jerez, Sanlúcar de Barrameda en El Puerto de Santa Maria verskyn. Derhalwe word die woord nie bevat op die Sedgwick’s Old Brown bottel nie. Dié lafenissie is in 1919 in Suid-Afrika begin produseer op verbruikerskaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Check Also
Close
Back to top button