News

Innibos 2017: Fees in die oortreffende trap

Die Innibos Laeveldse Nasionale Kunstefees in Nelspruit (Mbombela) neem vanjaar ’n stappie verder met meer as 300 kunstenaars wat op die feesterrein sal optree, vyf kuierverhoë buiten die Standard Bank-hoofverhoog, verskeie debuuttoneelproduksies, en ’n uitgebreide crawl-program, uniek aan dié fees.

Innibos, wat weer eens as kykNet Fiësta se gewildste fees aangewys is, is van Woensdag, 5
Julie, tot Saterdag, 8 Julie. Oudergewoonte word die gratis Loof Hom Innibos-konsert nog
Sondagaand op die Standard Bank-hoofverhoog gehou as afsluiting.

Ander vermaak op die feesterrein sluit in die Boma Kuierteater en onder meer die Bosmôl,
kosstalletjies, die kunspark, die Bosbioskoop en die kinderoppasdiens Apies in die Bos.

Dit alles skop af met ’n Kuns-in-bewging-parade op die eerste feesdag waaraan meer as 800
mense deelneem.

Op die toneel

Die debuuttoneelproduksies is die klassieke drama Nag van Legio uit die pen van P.G. du
Plessis en onder regie van Albert Maritz; Altaar met Christia Visser, Crystal-Donna Roberts,
Carla Smith, André Terblanché, Oarabile Ditsele, Heinrich Franse en Sive Gubangxa in die
rolverdeling; Is die bar al oop? geskryf en geregisseer deur Nico Luwes, en die
eenmanvertoning Rian met Rian deur radioman Rian van Heerden.

Nog ’n eenmanvertoning is dié van Neels van Jaarsveld in Op my eish! terwyl Fiela se kind
met Shaleen Surtie-Richards as Fiela, Koöperasiestories en So ry Miss Daisy (Sandra
Prinsloo en John Kani) ook groot aftrek sal kry.

Sandra Prinsloo is ook op die verhoog in die woordryke solovertoning, Moedertaal, ? verhaal
van deernis en liefde uit die pen van die veelbekroonde Fiësta-wenner Nico Scheepers.

Musiekteater

Een van die hoogtepunte is beslis Flennie die snare met onder andere Chris Chameleon,
Anna Davel, Daniella Deysel en Johny Klein waarin hulde gebring word aan Boerneef.

Elvis Blue is te sien in sy produksie Kaal, Jak de Priester vier 15 jaar met klavier en kitaar,
Jannie du Toit bring Bonjour, Monsieur Brel en Kiekies – Lucas se liedjies na die fees. Stef
Bos is ná vele jaar weer in die Laeveld met sy vertoning Bos innie Bos.

In Ses snare – Tuisgemaak word hulde gebring aan Suid-Afrikaanse kunstenaars wat
plaaslik sowel as op die wêreldverhoog sukses behaal het.

Klassieke Kamers is vanjaar onder die leiding van radiopersoonlikheid Christelle Webb
Joubert en die Meridian Karino Innibos Koorfees met sy gekombineerde skoolkore is
toenemend gewild onder feesgangers.

Goed, beter … Innibos se musiekkonserte

Elke feesdag om 18:00 kry duisende Innibossers hul sit en staan voor die Standard Bankhoofverhoog
vir ’n musiekkonsert van die boonste rak. Dié konserte is produksies in eie reg, en lankal nie sommerso nie – trouens, dit steek dalk so ’n bietjie na die kroon van ander grotes… Dit is behoorlik die wie’s-wie op die plaaslike musiektoneel wat op die hoofverhoog te sien sal wees deur die loop van die week: van Adam tot Vanfokkingtasties!

Vir die tweede jaar agtereenvolgend behoort Donderdagaand se Standard Bankhoofverhoog
aan die rockers (o.a. Hemelbesem, Mathew Mole, Majozi) wanneer die wenner
van die RockRumoer-kompetisie ook aangekondig sal word.

Kruip van die lag … en ander crawls

Die Boeke-crawl na Kaapsehoop en die Kos-crawl is jare reeds trefferproduksies waarvan
die kaartjies blitssnel verkoop, en vanjaar brei Innibos uit met bykomende crawls wat elk in
’n wye verskeidenheid feesgangers se kraal behoort te val.

’n Hele storiedorp word by die ATKV-Boeke-oase gebou vir die Kinder Boeke-krôl waar
kleingoed tussen sowat 2 tot 8 jaar oud kan kom boekwurm speel. Meer hardebaard is die
Lekkerlag Komedie-crawl met Dowwe Dolla, Casper de Vries, Soli Philander en Schalk
Bezuidenhout, terwyl ons na die buitewyke van Nelspruit gaan met die Innibos Townshipcrawl
en die ClemenGold-Boerderytoer.

ATKV-Boeke-oase

Vir die eerste keer is die gewilde boekgesprekke en die ATKV-Boekwinkel op een terrein, en
hoef leesgieriges nie die feesverkeer te trotseer om daar te kom nie.

Die nuutgeboude kultuursentrum van die Nelspruit Hoërskool is voortaan die boeketuiste, en
daar is ook ’n gesellige koffiewinkel waar jy kan asem skep uit die gewoel.

In die boekgesprekke val die fokus onderskeidelik op geskiedenis (Zelda Rowan en Friedel
Hansen), digkuns (Bibi Slippers), aktuele sake (Frans Cronjè en Theo Venter), romankuns
(Dolf van Niekerk) en reis (Erns Grundlingh).

Innibossers is van die eerste lesers landwyd wat die lank verwagte boek van Hertzogpryswenner Etienne van Heerden, Die wêreld van Charlie Oeng, se bekendstelling kan bywoon by Woorde Innituin.

XXX (30) kunswerke wat jy moet sien voor jy doodgaan

John Anthony Boerma, kunskurator van Innibos se visuele kunsteprogram, neem vanjaar
afskeid van dié rol met ’n keuse van 30 kunswerke van Suid-Afrikaanse kunstenaars wat jy
in jou dag des lewens nie moet misloop om te sien nie as die hoofuitstalling.

Die tema vir die randuitstalling is Uit die Bo(k)s en plaaslike kunstenaars van Mbombela toon
hul talent in hierdie eklektiese versameling werke in ’n wye reeks genres.

Toegangskaartjies

Voorskoolse- en laerskoolkinders se toegang tot die feesterrein is gratis. ’n Weekkaartjie kos
R500 en pensionarisse betaal Woensdag, 5 Julie, slegs R50.

Andersins is kaartjiepryse vir Woensdag, 5 Julie, R110 (goue sirkel is R80 bykomend); op
Donderdag, 6 Julie, is dit ook R110 (geen goue sirkel nie); Vrydag, 7 Julie, kos ’n kaartjie
R165 (R110 vir die goue sirkel) en op Saterdag, 8 Julie, is dit R195 (R240 ekstra vir ’n
sitplek in die goue sirkel).

Toegang tot die ATKV-Boeke-oase by die Nelspruit Hoërskool Kultuursentrum is gratis. RSG
sal ook elke feesdag ’n gedeelte van die nuusprogramme Monitor en Spektrum van daar
uitsaai, sowel as RSG-kuns en Skrywers en Boeke.

Die volledige feesprogram is op www.innibos.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button