DBV hou drienag karnaval
Personeel van die Dierebeskermingsvereniging gaan met die draai van die seisoen vir drie dae in een van die hokke sit as deel van 'n bewusmakingsproses.
Senior inspekteur Petro Oberholzer, asook me. Amanda Jacobs en me. Carmen Harris, sê hulle “is nie bang vir die koue nie” en hulle doen dit sodat mense kan sien hulle is ten alle tye besorg oor diere.
Dié projek is ook om mense bewus te maak van die DBV se werksaamhede.
Dié karnaval is vanaf 21-24 Junie en hulle nooi besighede en ander organisasies om deel te word van die projek. Die vroue sal oor hierdie tydperk elkeen deurnag in die hokke deurbring.
“Die verdere uitdaging is om, wanneer jy die volgende oggend uit die hok kom, net jou tande te borsel en dan weer jou dag se werk te doen,” sê sen-insp. Oberholzer.
Gedurende hierdie tyd kan mense die DBV besoek, gaan kyk hoe een van hulle in die hok saam met ‘n hond sit, met haar of ander personeel gesels oor hul projekte en ook iets warms koop om te drink.
Die plan is om koffie en sop te verkoop teen ‘n minimale bedrag en hulle benodig nog vrywilligers om koffie en sop te skenk en te bedien om die koue te verdryf.
Mense kan ook inkoop in die projek deur die vroue per uur te borg. “Dit maak nie saak of jy één uur of 24 uur wil borg nie! Wys net jou steun aan die DBV!”
Besighede wat wil deel raak van die projek is ook welkom om van hulle te laat hoor.
Bel die DBV by 013 246 1201 as jy een van die vroue per uur wil borg, of ‘n handjie wil bysit met die projek.
• Mnr. Franco Loots, ondervoorsitter van die DBV komitee, is tans besig met ‘n projek om al die mure om die DBV oor te laat verf, sodat besighede hul uithangborde daar kan laat opsit wat die DBV wil ondersteun. Meer inligting kan verkry word deur die DBV-kantoor te bel.

