News

Houvas jou matras, daar’s ’n bobbejaan in jou erf

Amerikaners wat glo leeus loop steeds in Johannesburg se strate rond, sal skrik wanneer hulle na Midderlburg reis. Hier word gereeld diere in die strate gesien.

Gister is hulle weer trakteer op ’n trop boerbokke en twee beeste.

Oor die jare het wilde diere vir groot konsternasie gesorg.

•Daar was die bobbejaan wat ’n staffordshire terrier geklap het dat hy na sy ouma verlang in Bullerstraat.

•In dieselfde straat het ’n beduiwelde vlakvark amok gemaak soos die Leeus se Wildhog van der Merwe en deur ’n glasvenster gebars. Die vlakvark was so buite beheer, dat hy deur ’n jagter, Francois Cox, doodgeskiet moes word.

•Nog ’n vlakvark het hom in ds Gawie Conradie se tuin tuisgemaak.

•’n Bobbejaan het die dorp op hol, gehad nadat hy by Laerskool Dennesig en Hoërskool Kanonkop rondgehardloop het.

•’n Jong krokodilletjie is op die banke van die Klein Olifantsrivier, wat deur die dorp vloei, gesien.

•’n Inwoner in Aerorand het klein krokodilletjies in sy tuin gekry. Daar was vrese dat die krokodille uit die Krugerdam kom. Later het ’n bekende hengelaar gebieg dit was ’n poets wat hulle die man gebak het.

•’n Springbok, nie die wat Saterdag op Loftus speel nie, is een oggend in ’n veld langs die Dennesig woonbuurt gevang deur ’n groep inwoners.

•’n Likkewaan het hom al in die provinsiale hospitaal tuisgemaak.

•Slangvanger Victor Boshoff moet elke somer talle slange uit huise verwyder.

•’n Otter is al in die Dennesig dammetjies gesien. Natuurbewaring het tevergeefs probeer om hom te vang.

•Twee maande gelede het twee blesbokke in Walter Sisulustraat opgedraf, tot groot verbasing van inwoners.

•Volgende keer as inwoners na die wildtuin ries kan hulle sommer na Middelburg afdraai, die kanse is goed dat hulle ’n wilde dier gaan sien, of dan ’n boerbok of ’n bees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button