News

Soveel nood in Knysna – so kan jy help

Lees hier oor ’n oud Middelburg inwoner se ervaring van die Knysna brand en vind uit waar jy skenkings in Middelburg kan afgee.

“Waar begin mens die stukkies optel as jou hele lewe afgebrand het? Ek is nie iemand wat baie waarde heg aan aardse besittings nie, maar selfs ek het gesukkel om te besluit wat ek vat toe ons moes ontruim. Mens dink aan dinge soos jou kar se registrasiepapiere, jou kinders se mediese rekords, dit was regtig ’n nagmerrie.”

’n Oud Middelburger, wat in Knysna woon, het met www.mobserver.co.za gepraat oor die impak van die vure wat hul dorpie in ’n oogwink verwoes het.

Sy sê dat daar in haar onmiddellike vriendekring vier gesinne is wat alles verloor het. Twee van die gesinne het nie versekering op hul huise gehad nie.

Daar het 02:00 in die oggend ’n vrou wat 84 jaar oud is, by haar kom aanklop om hulp. In haar hande het sy haar honde en ’n sak hondekos gehad, dit is al wat sy kon red. Toe sy later terugkeer na haar huis toe, is dit wonderbaarlik gespaar.

“En nou hang die rook. Ons verstik daarin soos alles smeul, maar ons wil nie bid vir wind nie, want netnou blaas dit weer die vure aan,” sê me. Charlene Turpin.

Sy moes in die oggendure met haar seuntjie hospitaal toe jaag. Hy het longontsteking opgedoen van al die rookinhallasie. Talle ander ma’s sit met dieselfde probleem.

Me. Turpin sê die hulp wat van buite af instroom is ongelooflik.

“Hier kom trokke en trokke kos aan. Maar soos wat dit inkom, word dit uitgedeel. Die nood is so groot, niks wat iemand stuur sal vermors nie.”

Sy sê dat baie mense wat alles verloor het steeds nie na gemeenskapssale gaan om skenkings te ontvang nie.

Video: Met boot gejaag om mense te red

“Hulle is te trots. En hulle dink omdat hulle darem ’n salaris verdien en iets kan koop, hulle die skenkings vir armer mense sal los. Dis asof hulle nie besef dat hulle alles, behalwe die klere aan hulle lywe, verloor het nie.”

Hoe kan ons help?

DHL het landwyd bekend gemaak dat hulle skenkings gratis na Knysna sal vervoer. Daar is ook ander besighede in Middelburg wat hulself as afgeepunte beskikbaar gestel het sodat skenkings in Knysna kan uitkom.

• DHL se kantore is in 51 Septemberstraat. Hulle is vanmiddag tot 17:00 oop en Saterdag 09:00 tot 14:00 dan eers weer Maandag. Skenkings wat hulle voor 16:00 bereik kan dieselfde dag nog versend word. Hul kontaknommer is (013) 110 0188.

• Michelle Harrington van Kiddin (langs Westpack) nooi mense uit om skenkings daar te kom aflaai. Alle skenkings moet voor Maandag 10:00 afgelaai word, sodat dit uitgesorteer en verpak kan word vir DHL. Kiddin is vandag (Vrydag) tot 17:00 oop, Saterdag van 09:00 tot 13:00 en Sondag van 10:00 tot 12:00. Bel haar op 082 568 6724.

• Foto First in die Middelburg Mall neem ook skenkings in. Hulle is op Vrydae tot 19:00 oop, Saterdae van 09:00 tot 17:00 en Sondae van 09:00 tot 15:00. Hul kontaknommer is (013) 244 1171.

• Mica (Walter Sisulustraat). Kontak Willie Jonk by 071 368 9247

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button