Video: Jaagtog eindig in selle
’n Man het Maandag deur ’n woonstel se venster geklim om ’n voertuig se sleutel te vat en daarna met die voertuig weg te ry.

Me. Melissa le Roux se voertuig het by haar vriend se woonstel gestaan. Dié woonstel is een van vier wat aangrensend is by ’n huis in Groblersdal.
Sy het Maandag om 13:00 ’n buurvrou gekontak nadat haar pa ’n oproep vanaf die polisie ontvang het.
Die polisie het gesê dat Groblersdal Obaro se vulstasie ’n saak oopgemaak het dat ’n voertuig met ’n registrasienommer in sy naam brandstof ingegooi het en weggejaag het sonder om te betaal.
Me. Le Roux het die buurvrou gevra om na die woonstelle te ry om te kyk of haar voertuig nog in die parkering staan, aangesien sy nie self kan gaan kyk omdat sy uitstedig was.
Die huurder het haar gekontak en gesê dat haar voertuig nie meer in die perseel is nie en het opgemerk dat haar badkamervenster wawyd oop staan met die blinders wat opgetrek is.
Daar was egter geen elektroniese toestelle uit die woonstel gesteel nie, net die voertuig se sleutel.
Groblersdal se polisie, buurtwag, gemeenskapspolisieforum (GPF), Cartrack en sekruiteitsmaatskappye is dadelik in kennis gestel om op die uitkyk te wees vir ’n gesteelde silwer Toyota Etios.
Intussen het Obaro Groblersdal se vulstasie die beeldmateriaal, waarop die voertuig gesien kan word, aan me. Le Roux gestuur.
Sy het dadelik bevestig dat dit haar voertuig is en die man op die beeldmateriaal herken.
’n Lid van die GPF het ’n foto van die man aan Obaro verskaf, waarna die petroljoggie dadelik die man in die foto herken het as dieselfde een wat in dié beeldmateriaal verskyn en petrol ingegooi het sonder om te betaal.

Die voertuig se sein is enkele minute nadat Cartrack in kennis gestel is, in Burgersfort opgespoor, waar dit getoon het dat die voertuig afgeskakel is.
’n Polisiereservis is uitgestuur om die voertuig te volg en is die voertuig later tussen Burgersfort en Steelpoort opgemerk.
Die reservis het die voertuig gevolg tot in Phalaborwa, van daar tot in Lydenburg, na Jane Furse, na Marble Hall en toe weer op die Bloempoortpad in die rigting van Dennilton.
Die man het op die Bloempoortpad beheer oor die voertuig verloor en deur ’n boer se omheining gejaag.
Die voertuig is erg beskadig in die proses en het dit veroorsaak dat hy van die pad af moes trek.
Hy het egter uit die voertuig gespring en vermoedelik skuiling gesoek in ’n nabye landery.
Al die bogenoemde eenhede is uit na die toneel opsoek na die man.
’n Boer het minute later geskakel en gesê dat sy sekuriteitswag ’n verdagte man naby die pakkamer op sy plaas opgespoor het, maar dat hy dadelik weer die hasepad gekies het.
Teen 23:30 het almal huiswaarts gekeer na ’n byna twee ure soektog.
Me. Le Roux is in die vroeë oggendure in kennis gestel dat ’n verdagte om 01:00 deur Groblersdal polisie in hegtenis geneem is by die T-aansluiting, by die stalletjies op pad na Groblersdal op die Bloempoortpad.
Die arrestasie het gevolg nadat die polisie inligting ontvang het dat hy opgemerk is in die omgewing.
• Mnr. Divan Visagie (18) het Woensdag in Groblersdal in die hof verksyn op ’n klag van huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Die saak is uitgestel na 10 Julie vir verdere ondersoek. Hy is op waarskuwing vrygelaat.
• Me. Le Roux bedank Groblersdal Buurtwag, Ferdi Kraftt en Zack Saayman vir hul vinnige optrede en moeite.
• Mnr. Visagie is me. Le Rous se buurman.
