News

Polisie vat boervrou se vuurwapen

'n Voormalige boervrou van die Elandslaagte omgewing, wat van poging tot moord aangekla is nadat sy 'n waarskuwingskoot geskiet het, is onskuldig bevind.

Estelle Oberholzer (74) is in Desember 2015 gearresteer, drie dae nadat haar man, Jan, in ‘n onderonsie met hul huishulp se seun op die plaas was.

Die seun, wat ook die klaer in die saak was, het destyds aangevoer dat mev. Oberholzer probeer het om hom dood te skiet. Hy het in sy verklaring gesê dat die koeël sentimeters naby sy kop verby gevlieg het.

Mev. Oberholzer het vertel dat die seun, wat toe minderjarig was en dus nie geïdentifiseer kan word nie, vakansies by hulle op die plaas gewerk het.

Die egpaar het hom gehelp om ‘n skootrekenaar met ‘n internet konneksie te bekom om sy skoolwerk op te doen. Hy was glo ongelukkig omdat hulle nie wou pa staan toe hy om krediet wou aansoek doen om luidsprekers by ‘n meubelwinkel te koop nie.

Volgens mev. Oberholzer het hy die Vrydag voor haar arrestasie op die plaas aangekom en aanhoudend geskree: “I want my money!”

Mnr. Oberholzer het na die erf se hek gestap om met hom te praat. Mev. Oberholzer het vertel dat die seun baie dreigend was en op ‘n stadium op haar man afgestorm het met iets in sy hand. Sy het toe ‘n waarskuwingskoot afgevuur.

Die daaropvolgende Maandag was daar twee speurders voor haar deur wat haar ingelig het dat sy vir poging tot moord gearresteer word. Mev. Oberholzer is bykans die hele dag by die speurtak aangehou en eers later die middag aangekla. Haar familie kon met ‘n groot gesukkel daarin slaag om haar dieselfde nag nog op borg vrygelaat te kry.

Mnr. Oberholzer, wat terug plaas toe is om sy vrou se vuurwapenlisensie en identiteitsboekie te gaan haal, moes agterkom dat terwyl hulle in die dorp was, by die huis ingebreek is. Die dokumente waarna hy op soek was sowel as kontant is uit die huis gesteel.

Mev. Oberholzer het na die voorval ‘n klag van diefstal geopen.

Tydens haar arrestasie is daar op haar vuurwapen beslag gelê.

Lees vorige stories hier:

Bejaarde boervrou gearresteer

Opvolg: Saak van rol geskrap

“Vrydag in die hof het hy toe sommer sy hele storie verander en gesê dat hy op die grond gelê het en dat my man hom met ‘n mes wou steek. Toe vra hulle vir hom maar wat het dan geword van die storie van die koeël wat verby sy kop gefluit het,” sê mev. Oberholzer.

Sy sê dat dit nie vir haar nodig was om te getuig nie en dat sy na die klaer se getuienis, onskuldig bevind en ontslaan is.

Mev. Oberholzer is egter steeds haar vuurwapen kwyt. Sy kon daarin slaag om ‘n duplikaat van haar vuurwapenlisensie te bekom. Daar het ook niks van die diefstalsaak wat sy geopen het geword nie.
“Ek het nooit weer iets gehoor nie, maar ek los dit eerder. Ek is net bly hierdie ding is agter my,” sê mev. Oberholzer.

Die Oberholzer egpaar het sedert die voorval na hul kinders in Gauteng verhuis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Check Also
Close
Back to top button