Miljoene rande se koper gesteel
Vermeende koperdiewe wat in die laaste sewe maande sowat R5 milj. se skade by 'n besigheid aangerig het op Middelburg, is deur blitsige optrede van Mid-Alarms sekuriteitsoffisiere vasgetrek.
Saterdag het lede van Mid-Alarms vier verdagtes op die perseel van Isandiso Holdings gearresteer en Maandag nóg twee booswigte op heter daad betrap.
Sekuriteitsoffisiere Shane van Rooyen en Peter Jacobusen, sê hulle hou dié perseel in Literstraat al vir maande dop, omdat die alarm uitgeruk is. “Toe ons eendag daar kom, het die alarmboks sommer daar eenkant op die vloer gelê!”
Hulle het al verskeie kere inligting gekry dat die booswigte kabels en ander toerusting steel, maar elke keer as hulle daar kom, was die misdadigers skoonveld.
Saterdag het een van die buurbesighede hulle gekontak en laat weet dat hulle iets in die perseel hoor.
Shane en Peter het soontoe gejaag, waar hulle die vier verdagtes vasgetrek het. Maandagoggend het hulle nóg twee op heter daad in die perseel betrap.
Mnr. Sevenzo Mkhize (mede-eienaar van Isandiso Holdings) het Maandagoggend die span van Mid-Alarms geloof vir hul goeie werk.
Hulle vervaardig plastiekpype en het die afgelope paar maande al honderde duisende rande verliese gely met die kabelstropers wat by die stoor toegeslaan het.
