Eens mooi huis geplunder
'n Huis wat al 'n paar maande leeg staan in Stuart Cloetestraat (Gholfsig), is erg geplunder en het net 'n wegkruipplek vir kwaaddoeners geword.
Van wat eens ‘n pragwoning was, bestaan omtrent nog net die buitemure.
Alles van waarde is al uitgebreek en gesteel, van wasbakke tot elektriese bedrading vir koper, vensters en deure is uitgebreek.
Dit wat nie gesteel is nie, is aan stukke gekap.

Inwoners in die omgewing kla dat inbrekers en diewe na dié erf hardloop en dan gaan skuil in die huis of erf as daar na hulle gesoek word. Daar word ook gekla dat hulle van die huis, wat se gras al heuphoogte staan, af ander huise dophou as mense by hul erwe uitkom.
Me. Rothea Hollenbach, wat saam met haar man, Conrad, eienaars is van die huis, sê sy het verlede week trane in haar oë gekry toe sy sien hoe lyk dit by hul huis.

“Ek was erg geskok toe ek daar kom. Die huis staan net sowat drie maande leeg en die vorige eienaars het ook die plek verniel.”
Sy het gemeld dat hulle ‘n persoon by die huis gehad het wat dit opgepas het, maar dat hy ook verdwyn het, omdat hy te bang geword het om alleen daar te bly.

Me. Hollenbach sê die skade is van so ‘n aard dat hulle moontlik die huis sal moet platstoot om ‘n nuwe huis te bou.
Sy het onderneem om Maandag te reël dat die gras by die huis gesny word.
• Rdl. Jos Pretorius sê hy het die probleem Maandagoggend wéér aan die munisipaliteit gerapporteer, wat onderneem het dat daar ‘n inspeksie by die huis gedoen gaan word.
Hy het ook die sektorpolisiëring in kennis gestel, wat gesê het dat hulle ‘n ogie daar sal hou om ongewenste karakters uit te hou.
