News

Inbrekers skrik nie vir pit bulhonde

Twee oorlamse inbrekers het Dinsdag in die vroeë oggendure ingebreek by ’n huis in Jakarandastraat, terwyl die huismense én drie pit bulhonde in die huis gelê en slaap het!

Me. Petro Landsberg sê haar man, Mark en seun, Gerhard van Greuning (24) is kort na 04:00 gewek deur die alarm.

Gerhard het eers gedink dat mnr. Landsberg die honde ingebring het van buite af.

Hulle het ondersoek gaan instel in die huis en dadelik gemerk dat Gerhard se skootrekenaar, wat op ’n stoel gelê het, gesteel is.

Die mans het ook hul groot platskerm televisie stukkend gekry by die eetkamervenster. Hulle kon hom nie deur die venster getrek kry nie en het hom laat val.

Aldrie die honde se rughare het gerys toe hulle in die vertrek instap waar die inbrekers was en buite het hulle ook al blaffend geruik waar die inbrekers rondgesluip het.

Me. Landsberg, wat uitstedig was tydens die inbraak, sê hulle het hoë mure en na aanleiding van CCTV videomateriaal van hul bure kon hulle agterkom dat die booswigte van Renostraat se kant af oor die muur gespring het.

“Hulle moes die alarmogies voor in die erf gesien het en het langs die huis af agterom geloop.

Die inbrekers het eers by die lapa probeer inbreek, maar kon nie regkom nie en is na die eetkamervenster.

Hulle het die diefwering oopgebreek met ’n skroewedraaier (wat later deur die huismense opgetel is) en deurgeklouter. Die alarmogie het hulle nie opgetel nie en die vermoede bestaan dat hulle op die grond gekruip het na die sitkamer.

In die sitkamer het die alarm egter afgegaan, waarop hulle die televisie met drade en al uit die muur gepluk het en kort daarna laat val het. Hulle het die nag in gevlug.

Voertuigligte wat gesien is op die videomateriaal is ’n aanduiding dat hul makkers in die straat vir hulle gewag het met ’n voertuig.

Me. Landsberg sê sy is bly haar man en seun het nie dadelik gehardloop na die sitkamer toe nie, anders kon die inbrekers hulle dalk oorrompel en beseer het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button