News

Stroper dryfas trek hoofseun in

Die hoofseun van Belfast Akademie, CJ Uys (17), het ernstige beserings opgedoen nadat die dryfas van ’n stroper hom ingetrek het.

Die hoofseun van Belfast Akademie, CJ Uys (17), het ernstige beserings opgedoen nadat die dryfas van ’n stroper hom ingetrek het.

CJ se pa, Nico, ’n welbekende boer op die Belfast/Dullstroompad, sê CJ het Saterdag op die trekker gesit en oorgeleun om te kyk of alles nog reg is met die stroper.

Die volgende oomblik het die dryfas van die stroper (wat onder die trekker deurgaan), sy los windbreker beetgekry en dit ingetrek.

“CJ se klere is van hom afgeskeur,” vertel mnr. Uys.

CJ het fisies geveg om uit die kake van die dryfas te bly, maar mnr. Uys sê sy seun het nie velle op sy rug nie en dat sy arms en bene ook seergekry het in die geveg om nie heeltemal ingetrek te word nie.

“Dit is net genade dat hy geen bene gebreek het nie,” het mnr. Uys gesê.

Mnr. Uys sê hy was nie ver van CJ af nie en het sy beseerde seun in sy voertuig gehelp en dokter toe gejaag.

Mnr. Uys en sy vrou, Hannatjie, het van die dokter af na die Life Midmed Hospitaal gejaag waar hy gestabiliseer en later oorgeplaas is na die Kosmos Hospitaal.

CJ word intussen in die intensiewe eenheid behandel vir sy beserings en het ook reeds ’n operasie ondergaan.

Mnr. Uys het gemeld dat “dit goed gaan onder omstandighede en dat CJ stabiel is.”

CJ is by sy positiewe en sy ouers sê die dokter het hulle meegedeel dat as CJ nie so fiks was nie, sou hy baie ernstiger beseer gewees het.

Hul seun is ’n goeie hokkiespeler en hokkieskeidsregter.

Die gesin is oorweldig deur die ongelooflike ondersteuning “wat ons van oraloor, selfs wêreldwyd ontvang.” Hulle het elke persoon bedank wat hulle ondersteun deur middel van boodskappe en gebede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button