Opvolg: Sakeman moet in tronk bly
Die bekedne sakeman, Dolf Coetzee, kan maar net nie uit die moeilikheid bly nie en dit lyk ook nie asof hy uit die tronk kan bly nie.
Borg is vir die tweede keer in ‘n week geweier vir Coetzee wat nou aangekla word van opsetlike saakbeskadiging en crimen injuria.
Coetzee (eienaar van Autospares @ Dolf) se borgaansoek is Vrydag geweier.
Coetzee se verskyning spruit voort uit ‘n voorval waar ‘n kliënt na bewering iets gekoop het by sy besigheid. Die kliënt het die produk teruggebring en wou sy geld terughê, maar Coetzee het klaarblyklik geweier.
Na wat verneem word het die kliënt sy selfoon uitgehaal om foto’s te neem, waarna Coetzee dit uit sy hand geklap het.
Daar is tydens die hofgebeure ook erge gekruide taal gelees wat Coetzee na bewering sou gebruik het tydens die voorval.
Landdros Dumehleli het gesê dat sy 9 vorige veroordelings nog staan, dat daar twee hangende sake teen Coetzee is en dat dit die derde klagte teen hom is die afgelope paar maande.
• Coetzee is in Meimaand aangekla vir onder meer poging tot moord, ontvoering en aanranding na aanleiding van ‘n voorval op 21 April waar Lucky Ndlovu beweer dat hy deur Coetzee en ander mans by die spruitjie in Weeberstraat aangerand is.
Daar is nóg drie beskuldigdes, Jaco Swanepoel (22), Johannes Koster (69) en Hassen J. Dada (25) op dié saak aangekla.
Die saak is uitgestel na 21 Julie vir verhoor.
Lees vorige stories hier:
Vrou sien hoe mans inbreker aanrand
• Op dieselfde dag gaan die verhoor aan teen Coetzee, sy seun, Rudolf Daniël Coetzee jnr, Eugene Scheepers en Sydney van der Merwe, op ‘n klagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
