Video: Boer en brandweer stry teen vlamme
’n Boer en lede van die Middelburg brandweer het verbete gestry teen buitebande wat aan die brand geraak het op die Groblersdalpad.

Paramedici, die brandweer, asook polisielede het na die plaas van mnr. Vic Louw gejaag nadat almal die boodskap gekry het dat ’n huis of gastehuis aan die brand is.

Met hul aankoms het hulle gevind dat die geweldige vlamme veroorsaak is deur buitebande wat aan die brand geraak het.
Die bolle swart rook kon kilometers ver gesien word.

Die brandweer het die grasarea wat aan die brand was gou geblus, maar het te min water gehad, omdat die hoop buitebande nie wou ophou brand nie.

Mnr. Joggie Hesselman het met sy vuurspuit vir ’n geruime tyd ook probeer om die vlamme te blus, waarna werkers met ’n vuurspuit agter ’n trekker ’n klein rukkie terug by hom oorgeneem het.
• Boere op die toneel sê hulle het die afgelope paar dae kort-kort uitgejaag na brande in die omgewing wat veroorsaak is deur brandstigters wat kort-kort velde aan die brand steek.

