News

Aanvallers boet nooit vir dade

Hoekom kom so baie verdagtes in plaasaanvalle, veral in een gebied, skotvry daarvan af?

‘n Kommerwekkende tendens blyk kop uit te steek as dit by die aankla en vervolging van plaasaanval verdagtes kom. Een wat veroorsaak dat die gemeenskap met agterdog na die polisie kyk en al hoe meer skepties raak oor hul vermoë om sake op te los.

In Januarie 2012 is Francois du Toit op die plaas Kwalata in die Roossenekal omgewing in sy slaapkamer geskiet. Hy het op sy bed aan sy wonde beswyk. Mnr. Du Toit se vrou Eunice en sy kinders Francois (toe 12) en Stephani (toe nege) is vasgebind en was magteloos om te keer dat mnr. Du Toit doodbloei.

Daar was destyds sprake dat die groep rowers se hoofteiken ‘n renosterhoring was wat by mnr. Du Toit in die kluis was. Kwalata, eens ‘n spog wildplaas met eksotiese wild soos renosters en swartwitpense daarop, moes noodgedwonge van alle waardevolle wild ontslae raak na mnr. Du Toit se dood.

Na ‘n intense ondersoek waar selfs wyle Piet Byleveld betrokke was, is drie mans vir die aanval gearresteer. Stephani du Toit kon as klein dogtertjie een van die mans tussen 14 ander uitken tydens ‘n uiters intimiderende uitkenningsparade in Groblersdal, waartydens sy in dieselfde vertrek en sonder enige versperring tussen haar en die mans moes rondloop. Die man wat sy uitgeken het was die een wat haar boetie vasgebind het, het sy destyds gesê.

Ten spyte daarvan, is Given en Andries Maredi asook Titus Motshweni in die hooggeregshof in Middelburg vrygespreek, omdat daar nie genoegsame bewyse teen hulle was nie. Die regter het tydens sy uitspraak gesê dat hy die jong mej. Du Toit se getuienis as geloofwaardig beskou, maar dat dit op sigself nie genoeg was om die beskuldigdes te veroordeel nie.

Die Du Toit gesin het intussen na Namibië verhuis.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button