Video: ‘Gone in 58 seconds’
’n Bakkie is binne ses sekondes, vandat die deur oopgemaak is, by Lé Cars gesteel!

“Die rolprent ‘Gone in 60 seconds’ wys hoe hulle binne 60 sekondes ’n voertuig steel. Hier by ons steel hulle binne 58 sekondes sommer ’n bakkie!” het mnr. Amie Roberts (eienaar) vies gesê.
’n Toyota Hilux Legend 45 (registrasienommer HVZ187MP) is binne sekondes gesteel.
Met videomateriaal wat verkry is vanaf die buurbesigheid, Oribi Petroleum vulstasie, asook hul eie videomateriaal, kan gesien word hoe ’n silwer Audi A3 ’n man met ’n wit hemp en ’n ligbruin broek aflaai.
Die Audi stop ver genoeg dat ’n mens nie op die videomateriaal die registrasienommer kan kry nie.
Die man stap doodluiters deur die vulstasie in die rigting van Lé Cars.

Naby die sekuriteitskameras lig hy sy arm op en laat dit weer sak toe hy aanneem hy is verby. Hy is egter steeds binne die opneemarea en sy gesig word duidelik gesien.
Vandaar gaan hy in by die vertoonlokaal van Lé Cars en stap reguit na die bakkie.
Hy staan eers by die bakkie, maar ’n groot bussie staan langs die bakkie en versper waarmee hy besig is.
Kort hierna maak hy die bakkie se deur oop en ses sekondes later ry hy uit by die vertoonlokaal.
Die personeel het die bakkie hoor aansit en mnr. Hezekiel Mtsweni het nog agterna probeer hardloop, maar die bakkie het reeds by die vertoonlokaal uitgejaag en in Cowen Ntulistraat verdwyn.
Wat almal dronkslaan is dat beide sleutels van die bakkie nog by hulle is.
Mnr. Roberts is van mening dat die groep wat saamgewerk het om die bakkie te steel, die besigheid moes dopgehou het.
Hy vermoed hulle was ook op die perseel, waar hulle die VINnommer afgeskryf en vir hulself ’n sleutel laat maak het. Die groep moes die personeel fyn dopgehou het om te weet dat iemand nie op daardie stadium voor by die voertuie sou wees nie.
• Die verkoopprys van die bakkie was R499 000. Terwyl die bakkie weggejaag het, het die staander met die prys daarop etlike meters verder afgeval.

