Dié jag onwettig
Daar is wetgewing teen jagters wat onwettig met hul honde op boere se plase jag.

In die jongste voorval is 17 jagters met 40 honde op die plaas Roodepoort in die Arnot omgewing betrap. Die groep het gevlug en drie is gearresteer.
Boere kla al vir jare oor die probleem, aangesien die polisie baie keer nie van die jagters arresteer nie.
Word hulle wel aangekla, kom hulle gewoonlik net weg met ’n ligte boete of waarskuwing vir betreding.
• Mnr. Johan Coetzer (Hoof, Natuurbewaarder Hoëveldstreek – Ermelo) sê daar is beslis wetgewing oor onwettige jag met honde.
“Die wette is daar, die polisie moet dit net toepas.”
Hy het gemeld dat hy met die hulp van adv. Charles Lloyd inligtingstukke met uitgewysde sake laat saamstel het wat wyd aan polisiestasies uitgegee is.
Hulle het ook ’n opgestelde klagstaat wat aanklaers kan gebruik wanneer onwettige jagters aangekla word.

Hy het simpatie met die boere in die Middelburg en omgewing, aangesien natuurbewaring (Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap) met ’n probleem van te min personeel (sowat 70% tekort) het en nie altyd gou by die boere kan uitkom nie.
In die Ermelo omgewing, het hy ’n daadwerklike aksie begin om onwettige jag by die horings te pak.
Mnr. Coetzer sê hy het spesiale nie-jag borde laat maak en reeds sowat 500 versprei. As die boer dié bordjie by hom koop, registreer hy die boer se naam op ’n lys.
Daar word duidelik aangedui dat daar nie gejag mag word nie in Afrikaans, Engels en Zoeloe.
Boere wat by hom registreer, word ook van raad en inligting oor die wetgewing voorsien rakende onwettige jag.
Hy het gemeld dat boere die reg het om ’n siviele arrestasie op hul plaas uit te voer as daar onwettig op sy plaas met honde gejag word.
In die geval waar ’n boer die noodsaaklikheid sien om ’n onwettige jagter se honde te skiet, soos in die geval waar hulle byvoorbeeld sy skape of van sy ander wild jag, kan hy dit doen.
Mnr. Coetzer sê daar is egter ’n baie dun lyn wat nie oortree moet word nie, anders kan die boer self ook aangekla word.
Daar kan ook beslag gelê word op die jagters se voertuie.
Honde kan nié na die Dierebeskermingsvereniging geneem word nie, aangesien die sake lank kan duur en natuurbewaring nie die skutgelde kan verhaal nie.
Sy e-pos adres is johanc@mtpa.co.za
• Tydens ’n onderhoud in Meimaand met prof. Gerhard Verdoorn, eienaar van die Griffon Gifinligtingsentrum, ook boere genooi om hom te kontak vir raad met hierdie ernstige probleem.
Hy sê hierdie tipe jag is regdeur die land ’n probleem. Veral in die Oos-Kaap en Pongola is dit al buite beheer. Hy sê hy het ook gehoor van talle gevalle in Klerksdorp (Noord-Wes) en selfs boere uit die Transkei skakel hom vir raad omdat daar jag gemaak word op hul skape.
“Hierdie mense jag nie vir kos nie! Hulle jag kommersieel!”
Hy sê dat indien die polisie nie hul samewerking wil gee nie, moet die grondeienaar die saak onmiddellik by die distrikskommissaris en die SAPD se onafhanklike klagtedirektoraat aanmeld.
Boere wat meer inligting verlang, kan dr. Verdoorn kontak by nesher@tiscali.co.za of 082 446 8946.
• Die plaaslike veediefstaleenheid het gesê dat boere welkom is om hulle ook te kontak, sou daar onwettig op hul plase gejag word met honde.
Hul bystandnommer is 071 328 1509 of bel adj. Wimpie Botha by 082 303 9935 of kapt. Tommy Nyambi (veediefstaleenheid bevelvoerder) by 071 473 3421.
• Die Dierebeskermingswet is duidelik daaroor dat ’n dier nie opgelei mag word om ’n ander dier aan te val of te dood nie.
Snr-insp. Petro Oberholzer (Middelburg DBV) het gesê dat hierdie jagters ook aangekla kan word onder dié wet.
