Slang toer Limpopo deur op warm enjinblok
’n Slang het van Letsitele na Marble Hall ’n saamry geleentheid in ’n Iveco bussie se enjin gekry omdat die drywer te bang was om die slang te verwyder.
Mnr. Arthur Roden slangvanger van NSARRU is Vrydag per stond deur Master Wheels geskakel om te kom help.
Een van hul drywers het met sy aankoms paniekerig vertel dat hy met die slang van Letsitele in die enjin moes terugry Groblersdal toe.
Die drywer wou by hul werkswinkel kyk of die voertuig se olievlak nog reg is, toe hy die slang opmerk. Hy het so geskrik dat hy dadelik die enjinklap toegemaak en terug gery het Groblersdal toe, sonder om na die olie te kyk.
Die slang is beskryf as groen en die drywer is aangesê om wéér, van Groblersdal na Marble Hall te ry, sodat mnr. Roden die slang kon verwyder. Hy was bang dat dit dalk ’n groenmamba kon wees.
“Die slang het ’n saamry geleentheid van ongeveer 290 km ver gekry,” vertel mnr. Roden.
Met die drywer se aankoms in Marble Hall het mnr. Roden dit dadelik uitgeken as ’n boomslang.
“Boomslangmannetjies is groen, en die wyfie is bruin van kleur, baie mannetjies word verwar met ’n groenmamba, maar sover my kennis strek kom groenmambas glad nie in Limpopo voor nie, net in KwaZulu-Natal,” sê mnr. Roden.
Hy het die boomslang by die Olifantsrivier naby die Schuinsdraai Natuurreservaat vrygelaat.

