News

27 misdade – Moordenaars loop skotvry rond

Op die plaas Oostenwal, sowat 25 km, soos die kraai vlieg, van Kwalata, is daar al 27 misdade aangemeld by die polisie.

Drie daarvan was gewapende rooftogte waarin inwoners op die plaas met wapens aangehou of in lewensgevaar was.

In Maart 2015, word ’n jong man wat die Du Toit gesin se huis oppas, gemartel en met vuurwapens aangehou voor rowers met hul buit vlug.

•In Junie dieselfde jaar was dit Japie en Christina du Toit se beurt om met gewapende mans in hul slaapkamer wakker te word. Daar is later verdagtes in mnr. Du Toit se voertuig in Mamelodi vasgetrek. Mnr. Du Toit het later sy aanvallers positief uitgeken tydens ’n uitkenningsparade wat hy as een van die “aakligste ervarings” in sy lewe beskryf.

Hy het nooit weer van die polisie gehoor nie, tot hulle hom verlede jaar gebel het om hom in kennis te stel dat een man, die een wat agter die stuur van sy voertuig gevang is, ’n vyf jaar opgeskorte vonnis gekry het. Mnr. Du Toit is nooit tydens die hofsaak gevra om te gaan getuig nie.

•In Oktober 2015 kom daar 11 mans in ’n Toyota Corolla en ’n minibus taxi wat aan die Menlyn Taxi Vereniging behoort, op die plaas aangery.

Twee mans klim uit en vra vir Hans Jurgens du Toit, mnr. Du Toit se jongste seun, om beeste te koop. Toe mnr. Du Toit sê hy verkoop nie vee van die plaas af nie, ruk hulle vuurwapens uit en begin op hom skiet.

Mnr. Du Toit hou kop en vlug om sy huis. In die tuin het dit gewemel van die mans wat na hom soek. Hy draai terug en wag die twee gewapende mans, wat hom agterna gesit het om ’n hoek in en slaag daarin om een van hulle raak te skiet.

Sy skote laat die res van die groep vlug. Boere in die omgewing is egter blitsvinnig op hulle. Hulle versper die grondpad naby die plaas en raak in ’n skietgeveg met die insittendes van die minibus taxi en die Corolla betrokke en skiet nog een van die aanvallers in die been raak.

Soos wat die aanvallers die veld in gehardloop het, het hulle hul hemde uitgetrek en neergegooi. Daar is ook selfone en ander persoonlike items opgetel. ’n Samsung tablet, wat deur talle ooggetuies op die toneel gesien is en deur ’n polisieman in uniform opgetel is toe dit begin lui het, is nooit by die polisie se bewysestoor ingeboek nie.

’n Grootskaalse soektog is geloods met die hulp van helikopters. Die gewonde verdagte is later in die veld opgespoor, sonder sy hemp. Die Middelburg Observer stel later onafhanklik vas dat die minibus taxi aan hom behoort.

Net minder as twee jaar later het daar niks van die saak gekom nie. Mnr. Du Toit word nooit geroep om iemand te probeer uitken nie of om te getuig nie.

Die taxi, wat as bewysstuk by die Laersdrift Polisiestasie gestaan het, het later verdwyn. Toe mnr. Du Toit navraag doen, is hy ingelig dat dit aan die eienaar teruggegee is. Die man, waarvan die Middelburg Observer ’n foto het met ’n skietwond in sy been, kom skotvry weg. Dit blyk nou dat die polisie selfs nagelaat het om ’n mediese verslag te kry wat bevestig dat die verdagte se besering wel as gevolg van ’n skietwond was.

Mnr. Du Toit sê dat hy onlangs gekontak is deur ’n nuwe speurder om ’n uitkenningsparade by te woon.

“My pa het al die mans wat hom in sy huis aangehou het positief uitgeken. Daar het niks van gekom nie. Stephani het toe sy net nege jaar oud was ’n rower positief uitgeken. Daar het ook niks van gekom nie. Ek is nie bereid om myself daar deur te sit sommer net vir die sports nie,” sê mnr. Du Toit.

’n Oud-polisieman wat by die ondersoek betrokke was, sê dat daar so baie inligting en bewyse was dat hy verstom is dat niemand aangekla is nie. Hy het gesê dat hy later uitgevind het dat die polisie nie eens moeite gedoen het om die res van die verdagtes, van wie daar DNS, selfone, beursies en ander bewyse was, op te spoor nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button