Video: Namibië nie meer veilige bestemming – egpaar vertel van rooftog
Namibië is nie meer die veilige bestemming waarheen toeriste stroom nie.
Oud brandweerhoof, Gert Pretorius (69), het pas in Middelburg aangekom en vertel van die rooftog Donderdagoggend by Duin Sewe in Namibië.
“Ons lewe, dit is die belangrikste!” was sy eerste woorde toe hy oor die traumatiese gebeure praat.
Mnr. Pretorius vertel dat hulle by die duin, wat die sewende hoogste sandduin in die wêreld is, gestop het om daarna te kyk.
Sy vrou, Emma (70) het by die voertuig bly staan en hy het ’n entjie weggestap om klippies en sand op te tel.
Mnr. Pretorius sê sy vrou het opgemerk dat ’n voertuig eers verby ry en daarna omdraai en in hul rigting kom.
Hyself het dit egter nie opgemerk nie.

’n Groep van vier mans het uit die voertuig gespring en me. Pretorius met hul messe gedreig.
“Emma het my aandag probeer trek om te skree en te fluit, maar ek het niks gehoor nie. Toe ek omdraai, het hulle my gegryp.”
Mnr. Pretorius sê hulle het hom deursoek en sy beursie en selfoon geroof.
Daarna het hulle die kar deursoek, waar hulle die egpaar se kameras en ander sakke gegryp het. In dié sakke was onder andere tentpenne, selfoonlaaiers en me. Pretorius se grimeersakkie.
Die rowers het ook die voertuig se sleutels gevat en drie van die voertuig se bande met messe stukkend gesteek, voordat hulle weggejaag het.
Die egpaar het begin aanstap na ’n avontuurkamp, sowat 500 meter vanaf die duin, vanwaar die polisie en insleepdienste gekontak is.
Hul voertuig is ingesleep en mnr. Johan Swanepoel het hom oor die getraumatiseerde paartjie ontferm.
Mnr. Pretorius sê hul ID’s, bestuurderslisensies, bankkaarte en ander belangrike kaarte was alles in hul beursies. Hul paspoorte was gelukkig in ’n ander sak en hy het ook ’n ou bestuurderslisensie, wat nog geldig is tot 2019, in sy voertuig gekry.
Hy sê dat hulle weens die probleme met die bankkaarte wat gesteel is, nie toegang tot kontant gehad het nie. Hul kinders en ander familielede het geld in mnr. Swanepoel se rekening inbetaal, vanwaar hy dit onttrek en vir hulle gegee het.
Mnr. Pretorius sê dit het hulle R4 000 gekos om net die drie bande te vervang. Dit sluit nie die insleep- en ander kostes in nie.
Die beplanning was dat hulle Vrydag ’n ander sleutel vir hul voertuig sou laat maak.
Donderdagaand het die polisie egter by hulle opgedaag met me. Pretorius se grimeersakkie. In die sakkie was haar grimering, asook die voertuig se sleutel!

Volgens die polisie het hulle die grimeersakkie naby ’n woongebied in daardie omgewing opgetel.
• Baie mense was geskok toe hulle verneem van die rooftog in Namibië, aangesien dit een van die lande is wat vir vele nog ’n “veilige” vakansiegunsteling was.
