News

Jou Porsche is nie veilig nie

Jou Porsche is nie veilig nie! Die dae van donkiekar ry is lankal verby vir inbrekers. Hulle dra nou die duurste klere en ry die duurste karre, karre wat tot R4 miljoen kos.

Dieselfde sindikaat wat duur voertuie soos Porsches in Gauteng steel, was waarskynlik Vrydag betrokke by ’n inbraak in Stormsrivierstraat in Aerorand op Middelburg.

’n Gesin het Vrydag ’n Porsche Cayenne op die sypaadjie voor ’n huis gesien staan terwyl hulle verby gery het.

’n Man het agter by die kattebak gewag en die grootste gedeelte van die nommerplaat toegestaan, maar hulle kon wel sien dat dit ’n GP-registrasie is.

Sy makker het ’n grootskerm televisiestel na die voertuig gedra.

Mnr. Jakes Joubert se motorfiets soos dit gelyk het voor die diefstal.

Hulle het in trurat teruggery tot voor die huis, maar die man wat agter by die kattebak gestaan het, het omgedraai en ’n 9mm pistool op hulle gerig, waarop hulle moes wegjaag.

Senior spesialis ondersoeker, Werner Koekemoer, wat saam met die bekende Mike Bolhuis werk aan ’n intensiewe ondersoek in Gauteng nadat verskeie duur voertuie, waaronder Porsche Cayennes gesteel is, glo dit kan die groep wees wat ’n draai in Middelburg kom maak het.

Dit wat oor was ’n paar ure later nadat die motorfiets in ’n bos gevind is. Die motorfiets is heeltemal uitmekaar gehaal vir parte.

Dié gespesialiseerde ondersoekspan se hulp is aanvanklik ingeroep nadat daar ’n Porsche Cayenne en ’n Porsche Panamera meer as twee weke gelede by ’n huis in Montana gesteel is.

Tydens die inbraak is waardevolle huisware in die voertuie gelaai en het hulle met beide voertuie gevlug.

Mnr. Koekemoer sê daar is sedertdien al 23 van dié tipe voertuie regoor Gauteng gesteel.

Porsche Cayenne.

Mike Bolhuis, wat aan die stuur van die ondersoek staan, het aan ’n Afrikaanse dagblad gesê dat hierdie diefstalle verband hou met ’n sindikaat wat in die noorde en ooste van die stad en in ander gebiede in Gauteng doenig is.

Daar is gemeld dat die sindikaat konsentreer op bestellings van alle tipes luukse motors en is die gunstelinge Porsches, Mercedes, BMW’s en Land Cruisers.

Die voertuie word dan oor die grense gesmokkel na plekke soos Zambië en Mosambiek waar dit geherregistreer en verkoop word.

Mnr. Koekemoer het gemeld dat die waarde van byvoorbeeld ’n Porsche Cayenne wissel tussen R1.9 en R4 miljoen.

Hy was baie geïnteresseerd in die manier waarop daar by huise ingebreek en huisware gesteel word in Middelburg.

In die laaste paar maande was die modus operandi bykans altyd dieselfde.

Die palissadehek word blitsig oopforseer, waarna die veiligheidshekke binne sekondes met ’n koevoet of platpunt skroewedraaier oopgemaak en waardevolle huisware soos platskerm televisies, skootrekenaars en juweliersware gesteel word.

In bykans al die gevalle het die voertuie in trurat by die erf ingery om hul buit te laai.

By baie van die inbrake is daar ook voertuie gesteel.

In al die gevalle waar die groep gesien is, is gesê dat hulle baie goed geklee was.

“Hulle moet aanpas by die tipe voertuie wat hul steel. Dit is hoekom hulle so netjies aangetrek is,” sê mnr. Koekemoer.

Mnr. Koekemoer het gemeld dat dié inbrake direk dieselfde modus operandi is as wat hulle tans ondersoek.

“Of dit is een groep wat sáám opereer, óf twee groepe wat saamwerk om in verskillende areas te opereer.”

Hy sê dat die Porsche Cayenne wat Vrydag betrokke was by die inbraak dalk in Gauteng gesteel kon gewees het, aangesien die N4 die deurgangsroete is na Mosambiek.

Daar is aan hom verduidelik hoe maklik dit is om vanaf Aerorand na die N4 te vlug en was hy nog meer oortuig dat dit dieselfde voertuigdiewe uit Gauteng is wat gou in Middelburg kom inbreek het.

• Hy het genoem dat daar tans ook ’n sindikaat is wat geweldig baie motorfietse steel in Gauteng. Hy was verbaas toe hy verneem dat dieselfde ook in Middelburg gebeur.

Porsche Panamera.

“Daar is twéé sindikate by die motorfietsdiefstalle. Daar is een groep wat die volledige motorfiets uitvat na Mosambiek om te verkoop en dan is daar ’n groep wat die motorfietse steel en uitmekaar haal om die parte te verkoop.” Hy noem dat hulle veral geïnteresseerd is in superfietse.

Interessant om te meld dat daar die afgelope jaar verskeie gesteelde motorfietse in bosse om die dorp gevind is, sodat die booswigte dit later weer kon kom haal.

In Juniemaand is mnr. Jakes Joubert se motorfiets, ’n Kawasaki ZX 1400 (’n supermotorfiets) in Kanonkop gesteel. Dit is die volgende dag op ’n plaas op die Stoffbergpad gevind, maar was heeltemal uitmekaar gehaal. Dit was hier duidelik dat hulle die motorfiets uitmekaar gehaal het om die parte te verkoop.

• Mnr. Koekemoer vra dat enige persoon wat inligting het oor die sindikaat se bedrywighede vir hom ’n WhatsApp moet stuur na 082 820 3680 of ’n e-pos na koekies.wk@gmail.com.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button