Nog Middelburgers loop deur onder klippe
Plaaslike inwoner en oud-rugbyspeler Grant Bartle, meen dat hy net voor dr. Herman Nell met klippe bestook is op die N4 verlede Dinsdag.
Mnr. Bartle sê dat hy op 8 Augustus, omstreeks 22:45, vanaf Pretoria op pad terug Middelburg toe was, net voor eMalahleni in die KwaQua area.
“Ons het dieselfde voertuig in die verkeerde baan sien ry wat dr. Nell van gepraat het. Hy het voor ons omgedraai. Mens is maar versigtig vir kapings en sulke goed,” sê mnr. Bartle.
Hy sê dat hulle eers die obstruksie in die pad gesien het toe die voertuig verby hulle is. Dit was te laat vir omdraai en soos dr. Nell, het mnr. Bartle besluit om voet in die hoek te sit.
Die Ford Ranger dubbelkajuit waarin hy gery het, is van die brug af met klippe bestook.
“Ek dink nie hulle armpies was al warm gewees nie. Hulle het vir die venster gemik, maar mis gegooi en meeste van die klippe het op die dak beland” sê mnr. Bartle.

Sy agterste ruit en deur is ook in die proses beskadig.
Mnr. Bartle het aanhou ry tot in Middelburg waar hy die voorval by die polisie gaan aanmeld het.
• Nog ‘n slagoffer, George Kruger, het ‘n video op Facebook gelaai waarin hy agter sy Volkswagen Golf, wat agterop ‘n platbak lorrie gelaai is, aanry.
Mnr. Kruger sê in die video dat hy en ‘n vriend onderweg van Middelburg na Bronkhorstspruit was Dinsdagaand 8 Augustus.
Hy kon uitswaai vir ‘n klip wat na sy windskerm gegooi is.
Iemand het egter van die kant af ‘n Chevron reflektiewe bord na sy voertuig geslinger wat die windskerm aan die passasierskant getref het.
Op die video vertel hy dat die bord 4 cm van sy vriend se gesig af gestop het.
