Wat maak bobbejaan op rugbyveld?
Mnr. Bobbejaan wat Woensdag in Proteastraat, toe Duikerstraat en verskeie ander plekke in Kanonkop opgemerk is, het toe nie laatmiddag veld toe gevlug soos Woensdag vermoed is toe hy op Steelcrest se rugbyveld opgemerk en skielik Stoffbergpad se rigting gehol het nie.
Donderdag was kees weer terug in die dorp waar hy lank rustig op ’n muur tussen die brandweerwoonstelle en die departement van openbarewerke in Lilian Ngoyistraat gelê en dut het.
Toe grootkokkedoor klaar ’n uiltjie geknip het op die muur het hy gaan inloer by die inwoners van Piet Bezuidenhout woonstelle waarna hy weer die hasepad Cash Build toe in Wesstraat gekies het.
Me. Petro Oberholzer van die DBV sê sy was al herwaarts en derwaats maar kon die mannetjies bobbejaan nog nie opspoor nie.
Daar is weer ’n beroep op inwoners gedoen om die bobbejaan asseblief tog met rus te laat.
Indien hy opgemerk word kan die DBV geskakel word met inligting oor waar hy hom bevind.
Me. Oberholzer vra ook dat inwoners nie die bobbejaan se bewegings op oop radiokanale sal uitsaai nie, omdat mense daarheen stroom en die bobbejaan reeds baie gespanne is en kan aanval.
Indien jy die bobbejaan opmerk, skakel die DBV by 013 246 1201.
