NewsUpdate

Doodskistwee se vroue ingeloop met R24 000

Desperaatheid om hulle mans uit die tronk te kry het die vroue van die sogenaamde doodskistwee in die strik van gewetenlose swendelaars laat beland.

’n Egpaar van Pretoria, wat hulle as weldoeners van die doodskistwee se vroue voorgedoen het, het glo met derduisende rande verdwyn.

Me. Raelize Grobler het haarself glo voorgedoen as “iemand wat wil help” deur Facebook. Me.

Charné Oosthuyzen het me. Grobler en haar man, Andre, daarna in eMalahleni ontmoet waar die egpaar vir haar sakke vol kruideniersware en benodigdhede vir haar kinders gekoop het.

Me. Grobler het later by ’n hofverskyning van haar man, Willem, en Theo Jackson, in Middelburg opgedaag.

Die egpaar het nadat borg vir die doodskistwee vir die soveelste keer geweier is, vir hul vroue laat weet dat sy ’n advokaat in Pretoria het wat vir hul mans borg sal kan kry.

Me. Oosthuyzen sê dat me. Grobler herhaaldelik gesê het dat hulle vir niemand moet vertel nie en ook nie die advokaat se naam noem nie, omdat hy ’n swart advokaat was wat nie amptelik sy naam aan die doodskistwee gekoppel wou gehad het nie.

Me. Oosthuyzen en haar pa is Pretoria toe vir die borgaansoek.

Hulle het die Grobler egpaar by ’n gastehuis ontmoet, wat beweer het aan hulle behoort.

Hulle is van daar na die Pretoriase Hooggeregshof. Mnr. Grobler het met ’n man, wat hy “advokaat Ledwaba” genoem het, gepraat en die saak bespreek. Me. Oosthuyzen mag glad nie self met hom gepraat het nie.

Lees ook:  Opvolg: Koue skouer vir die haat

Sy en mnr. Grobler het daarna op die onderste vloer van die gebou gewag, terwyl me. Grobler en die “advokaat” in die hof in is. Later het mnr. Grobler ‘n telefoonoproep ontvang en glo aan me.

Oosthuyzen gesê dat die “advokaat die langer video soek”. (Hulle het vroeër die hele lêer wat die verdediging saamgestel het, gekry op versoek dat die advokaat dit nodig het vir die borgaansoek).

Grobler het gery om dit by die huis te gaan haal en haar by die hof agter gelaat.

Me. Oosthuyzen sê sy het begin onraad vermoed toe dit laat word en Grobler nie terug kom nie.

Toe sy hom bel het hy haar versoek om na die gastehuis terug te kom. Daar het hy aan hulle vertel dat borg van R1 500 toegestaan is, maar dat dit eers die Maandag betaal kan word, omdat die hofklerk klaar huistoe is.

Die Maandag is me. Oosthuyzen en Jackson laat weet dat die saak dalk teruggetrek is, omdat hulle nie die klerk in die hande kry nie.

Die vroue het besluit om te probeer rondbel maar kon nie ’n adv. Ledwaba opspoor nie. Die hof het ook aan hulle bevestig dat daar nooit so saak op die rol was nie.

Hulle is weer Pretoria toe om die Grobler egpaar te gaan sien. Die egpaar het hulle na die gastehuis se raadsaal geneem waar hulle meegedeel is dat advokaat Barry Roux nou die saak gaan behartig en dat die Grobler egpaar al die regskostes sal dra.

Toe die vroue dreig om die egpaar te ontbloot of by owerhede te gaan aangee, het me. Grobler gedreig dat sy die verdediging se hele leêr aan die ANC en EFF sal lek.

Op daardie stadium het die vroue nie geweet dat die langer video as bewysstuk in die verhoor gebruik gaan word nie, en het gevrees dat dit hul mans se saak kan belemmer.

Hulle het uit angs besluit om stil te bly en die poging om R24 000 wat hulle aan die egpaar betaal het vir die advokaat, terug te kry, te laat vaar.

•Elsabe Juyn, deel van die doodskistwee se regspan, het gesê dat daar nou strafregtelike en siviele stappe gaan volg teen die egpaar.

•Die gastehuis eienaar het die Grobler egpaar as “die grootste leuenaars en kriminele wat elke keer met alles wegkom” beskryf. Mariana van Vuuren sê dat die egpaar in haar gastehuis gebly het en voorgegee het dat hulle dit vir R8 miljoen wil koop.

Hulle het volgens haar vervalste bankwaarborge ingehandig wat gelukkig deur haar prokureur opgespoor kon word. Die koop het deur die mat geval.

“Ons het ons dood gesukkel om hulle uit die gastehuis te kry. Toe hulle hier weg is, was daar R22 000 se skade aan my plek. Hulle het al die handdoeke en linne gesteel en selfs elektriese kabels teen die muur afgesny.” Sy het van ‘n skoonheidsalon gehoor wat sy deure moes sluit nadat hulle R55 000 verloor het asook talle mense wat hul werk verloor het na ‘n gemors met kontrakte op ‘n myn.

•Centurion Record, het oor dieselfde egpaar geskryf in Junie vanjaar.

Lees ook:

Update: Accused to call witness on satellite tracking of vehicles

Day two coffin case trial continues

Video: #Coffincase Inspection of location

Day two of coffin case trial about to start in Middelburg

Second day of Coffin Case trial set to start

Hulle is deur ‘n Kabous Krige beskuldig dat hulle twee van sy voertuie gevat het, wat hulle sou verkoop om fondse te bekom, sodat hy finansiering op ‘n nuwe voertuig kon kry.

Hy het egter nooit sy geld gesien nie en moes later uitvind dat een van die voertuie reeds op iemand anders se naam geregistreer is.

• Andre Grobler het www.mobserver.co.za gekontak na talle boodskappe vir die egpaar gelos is.
Mnr. Grobler sê dat die saak “baie sensitief” is en dat hulle in besit is van ‘baie sensitiewe inligting’ wat reeds by hul prokureurs is.

“Hulle moet baie mooi dink wat hulle nou gaan doen. Ek dink ons moet die saak deur ons prokureurs hanteer,” het mnr. Grobler gesê. Toe hy uitgevra is of die sensitiewe inligting waarna hy verwys met die hofsaak te doen het, en hulle dus wou afpers, en of dit met beweerde onwettige optrede van die vroue te doen het, het hy gesê dat die vroue baie onwettige dinge gedoen het.

Hy sê die R24 000 waaroor “hulle huil” is niks in vergelyking met die geld wat hy op hulle spandeer het, waarvoor hy steeds betaalstrokies het.

Mnr. Grobler sê dat hy nie kan glo dat sy vrou ‘sulke stront’ sal stuur toe hy uitgevra is oor die dreigement dat sy ‘n video sal lek aan politieke partye as die vrouens haar ontbloot nie. Oor Kabous Krige het mnr. Grobler gesê dat die aangeleentheid lankal tussen hulle en mnr. Krige se prokureurs uitgesorteer is. Mnr. Krige ontken dit ten sterkste en het gesê dat hy nog geen geld ontvang het nie.

•Daar is ’n Facebookblad vir die doodskistwee oopgemaak. Elsabe Juyn, wat ook geveg het vir Clive Derby-Lewis om voor sy dood op parool vrygelaat te word, is deel van Theo Jackson en Willem Oosthuyzen se regsspan. Sy sê dat sy glad nie ‘n aanhanger van sosiale media is nie, maar dat sy tog gevoel het dat sy êrens moet stoom af blaas.

Lees ook:

Update: More police ordered to keep order during #Coffincase trial

Day 3 #Coffincase: Cross examination of Sithole completed

Update 11 – Day 3 #CoffinCase trial – as it happens

Die groep, genaamd “Regverdigheid vir Willem Oosthuyzen en Theo Jackson doodskissaak” vra mense om donasies vir hul regskostes te maak deur ‘n SMS na ‘n donasie lyn te stuur of deur geld direk in hul prokureursfirma, Marius Coertze Prokureurs, in te betaal.

Daar word ook op die blad gewaarsku teen swendelaars wat namens die beskuldigdes geld insamel.

•Derby-Lewis en Janusz Walus is tronk toe gestuur na die sluipmoord op die leier van die kommunistiese party, Chris Hani.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button