Opvolg: Valke kaptein steeds in hospitaal
Die rugbykaptein van die Valke, JP Mostert, word al meer as 'n maand in die Netcare Milpark Hospitaal in Johannesburg behandel, nadat hy en 'n vriend op 22 Julie, buite Groblersdal in 'n motorongeluk betrokke was.

JP en Marco-Pierre van Eeden het by hul vriend, Jacques Verwey, gaan kuier op die Vaalfonteinpad.
Die vriende het om 20:00 vertrek om by ‘n restaurant te gaan eet, toe die ongeluk naby Tiaan Kruger Boerdery plaasgevind het op ‘n grondpad.
Die bakkie waarin JP gery het, het in ’n kanaal tot stilstand gekom. Van Eeden wat bestuur het, het nie die pad geken nie en sy sig is ook deur stof belemmer.
Die spoedmeterlesing het op 31km/p/h vasgeslaan.
JP het spinale beserings opgedoen en is deur Swift EMS na Groblersdal Hospitaal geneem waar hy gestabiliseer is. Hy is later deur die Netcare 911 helikopter Milpark toe gevlieg.
Nico Pretorius, eienaar van Swift EMS, sê dat Van Eeden nie beseer is nie.
Me. Jannet Mostert, JP se ma, sê dat JP geen ander beserings opgedoen het behalwe vir die spinale beserings nie.
Lees ook: Franco Mostert se oomblik van bitter-soete vreugde
“JP het nie eers ‘n gebreekte toon of ‘n krapmerk op sy lyf nie, dis net die werwels in sy nek wat seer gekry het. Hy het reeds, kort na die ongeluk, ‘n operasie ondergaan, waartydens ‘n werwel vervang is. Plate en skroewe is ook ingesit,” sê me. Mostert.
JP is steeds in die intensiewe sorgeenheid op ‘n asemhalingsmasjien en word onder verdowing gehou.

“JP moes reeds ‘n tweede operasie ondergaan het, maar sy longe is nog te swak. Hy het baie vog op die longe en hul kry dit nie gedreineer nie.”
Die Mostert-familie wag nou geduldig tot JP se longe beter is, wat twee tot drie maande kan neem.
“Ons weet nog nie of hy weer sal kan loop nie. Op dié stadium word daar net gefokus op sy longe, dit is nou ons grootste bekommernis. Ons is positief dat hy ten volle sal genees,” sê me. Mostert.
Die Barbarians for Christ en Valke rugbyspanne het ‘n biddag vir JP gereël op 22 Augustus by die Barnard Stadion in Kempton Park.
Meer as 90 mense het dié dag bygewoon om saam te bid vir JP se herstel.
Me. Mostert sê dat dit elke dag beter gaan met JP en dat hulle sterk staan in gebed.
•Sy broer, Franco, is saam met die Bokke oorsee vir hulle wedstryd Saterdag teen Australië.
