News

Plaasmoorde geen prioriteit vir polisie, politici of regstelsel

Moordenaars kom na 16 jaar nog meer weg met hul dade as toé.

Sestien jaar gelede, op 27 Julie 2001, is me. Wilna la Grange se man, Johann, voor sy dogter Aniene op hul plaas in die eMalahleni omgewing vermoor.

Hy is met een van sy kleinkinders se fietsies deur sy moordenaars oor die kop geslaan.
Die hou was so enorm dat hy in sy eie bloed versmoor het.

Aniene wat vasgebind by haar pa by die agterdeur gelê het, het gepoog om hom met haar voete op sy sy te draai, maar is deur een van die agt moordenaars verhoed met die woorde “ek skiet jou vrek as jy aan hom raak”.

Terwyl Aniene moes aanskou hoe haar pa voor haar stref is haar ma deur die huis gesleep en met ’n strykyster en kookwater gemartel.

• Op 23 Augustus dieselfde jaar, is die bekende plaaslike bloemiste Marita Hattingh se man, Pieter, nie ver van waar mnr. La Grange vermoor is nie, op hulle plaas met ysters doodgeslaan.

Sy drie aanvallers het ook tydens die plaasaanval beurtelings op sy bors gespring.

Me. Hattingh het besluit om op die plaas te bly, maar haar emosies het die oorhand gekry.

Sy het tydens ’n onderhoud in 2015 aan www.mobserver.co.za gesê dat Pieter se moord die grootste laagtepunt van haar bestaan is.

Me. Hattingh vind egter ’n mate van berusting in blomme wat sy sê haar vertroue in God standvastig hou in hul prag.

Dit is al sestien jaar nadat haar man vermoor is. Die drie moordenaars het soos in Johann la Grange se geval, nooit vir hul dade geboet nie. Een van die aanvallers is aangekeer maar het ontsnap en is nooit weer gearresteer nie.

• In Januarie 2012 is Francois du Toit op die plaas Kwalata in die Roossenekal omgewing in sy slaapkamer geskiet. Hy het op sy bed aan sy wonde beswyk. Mnr. Du Toit se vrou Eunice en sy kinders Francois (toe 12) en Stephani (toe nege) is vasgebind en was magteloos om te keer dat mnr. Du Toit doodbloei.

Sy dogtertjie, Stephani (9), kon een van die mans tussen 14 ander uitken tydens ’n uiters intimiderende uitkenningsparade in Groblersdal, waartydens sy in dieselfde vertrek en sonder enige versperring tussen haar en die mans moes rondloop.

Twee ander is ook gearresteer en aangekla. Ten spyte van die kind se brawe konfrontasie met die man wat haar boetie vasgebind het, is Given en Andries Maredi asook Titus Motshweni in die hooggeregshof in Middelburg vrygespreek.

• In 2015 alleen was daar 27 misdade op die plaas Oostenwal van die Stoffbergdistrik se bekende Du Toit boere aangemeld.

Lees ook: Video – Dullstroom murder: Tribute to Sue in the pouring rain

(Update): “Don’t be afraid my darling…” – The horror of a farm attack

(Update): Lone survivor of farm attack speaks about horror night

Gedurende dié jaar is mnr. Japie en sy vrou Christina du Toit in hul slaapkamer oorval. ’n Verdagte is in Mamelodi met mnr. Du Toit se voertuig aangekeer.

Een van die insittendes is positief met die aanval verbind, maar nie vervolg nie.

Maande later het 11 mans weer op die plaas toegesak en op mnr. Du Toit se jongste, Hans Jurgens, losgebrand.

Boere het opgeruk en talle aanvallers is gearresteer. ’n Aanvaller wat deur die boere gewond is is later geïdentifiseer as die eienaar van die taxi wat die aanvallers plaas toe aangery het.

Dié voertuig is later aan die eienaar teruggegee en niemand is vervolg nie.

• Die moordondersoek op me. Sue Howarth in Dullstroom vroeër die jaar maak stadig vordering.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button