News

’n Studiefonds vir slagoffers van plaasmoorde

Solidariteit Helpende Hand, wat Vrydagaand sy groot gala-geleentheid op Middelburg hou, het besluit om ’n studiefonds te stig wat op boere-gemeenskappe fokus. Dié fonds sal spesifiek aangewend word om vir die kinders wie se ouers slagoffers van plaasmoorde was, te sorg sodat hulle hul studies kan voltooi. Sedert 1 Januarie 2017 was daar al reeds …

Solidariteit Helpende Hand, wat Vrydagaand sy groot gala-geleentheid op Middelburg hou, het besluit om ’n studiefonds te stig wat op boere-gemeenskappe fokus.

Dié fonds sal spesifiek aangewend word om vir die kinders wie se ouers slagoffers van plaasmoorde was, te sorg sodat hulle hul studies kan voltooi.

Sedert 1 Januarie 2017 was daar al reeds 71 sterftes en 341 plaasaanvalle op Suid-Afrikaanse plase gewees.

Die boere wat slagoffers is van hierdie geweld laat geliefdes agter wat na hulleself moet omsien. Helpende Hand se doel is om behoeftiges en weerloses in die samelewing te help en te bemagtig.

Daarom bied die organisasie studiehulp aan vir die geliefdes van plaasmoord-slagoffers.

Volgens dr. Danie Brink, besturende hoof by Helpende Hand, is dit nog ’n manier waarop mense die land se boere kan ondersteun.

“Ons wil ons medelye aan die gesinne wat deur geweld op plase geraak is betoon en ons wil graag seker maak dat die families wat agterbly, spesifiek die jongmense, akademies versorg is en die nodige terapie ontvang.

“As mens kyk na die verskriklike statistieke aangaande plaasaanvalle en moorde is die vraag op baie mense se lippe: “Wat kan ek doen?” Ons by Helpende Hand het ook daardie vraag gevra en daarom het ons die Plaasmoorde-studiefonds gestig om te verseker dat geen kind ‘n opleiding geweier word as gevolg van ‘n plaasmoord nie,” het Brink gesê.

“Ons rig ‘n pleidooi aan die publiek om die fonds te ondersteun en daarmee vir ons boere te wys dat hulle belangrik is. Ondersteun die geliefdes van hierdie slagoffers wat dit nie sal kan bekostig om verder te studeer nie, omrede hul broodwinners as gevolg van hierdie tragiese gebeure nie meer kan voorsien nie.”

Die publiek kan direk tot die fonds bydra deur geld in Helpende Hand se rekening in te betaal, of deur die woord “Help” te SMS na 38969 (SMS kos R10).

’n Verteenwoordiger van Helpende Hand sal jou dan skakel om verdere reëlings te tref.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button