Maak seker jou stem tel
Die OVK bied Saterdag en Sondag ’n registrasienaweek aan by verskeie stemlokale in Groblersdal en Marble Hall.
Inwoners van Groblersdal en Marble Hall kry dié naweek die geleentheid om seker te maak hul stemme sal in vanjaar se plaaslike verkiesing tel.
Die Verkiesingskommissie (OVK) bied op Saterdag en Sondag, 20 en 21 Junie, ’n registrasienaweek aan waartydens kiesers kan registreer om te stem of hul woonadresse kan bevestig.
Die OVK sal by verskeie stemlokale in die gemeenskap beskikbaar wees om inwoners by te staan met registrasie en adresbevestiging.
In Groblersdal sal kiesers by die volgende stemlokale kan registreer: Laerskool Julian Muller en Chris Wiid-stadion (Groblersdal-rugbyklub).
In Marble Hall sal die stemlokale wees by die Marble Hall-stadsaal, Laerskool Marble Hall en Esther Maleka Comprehensive School.
Willie Oosthuizen, DA-wyksraadslid, doen ’n beroep op alle persone wat nog nie geregistreer is nie, om dié geleentheid te gebruik.
Kiesers word ook daaraan herinner om hulle woonadresse te bevestig. Persone wat nie hul adres bevestig het nie, kan weggewys word wanneer hulle probeer stem.
Volgens die OVK beteken dit nie noodwendig dat ’n persoon vanjaar sal kan stem net omdat hy of sy in vorige verkiesings gestem het nie. Kiesers moet seker maak hul besonderhede is korrek en op datum.
Die enigste dokument wat benodig word om te registreer, is ’n ID-boek of ID-kaart.
Vir meer inligting kan Willie Oosthuizen (Groblersdal) gekontak word by 083 627 6490 of Flip Jacobs (Marble Hall) by 076 026 5266.
