News

Lasbriewe vir Van Staden uitgereik

Annica van Staden, word deur twee polisiestasies gesoek, nadat daar in Mpumalanga en die Wes Kaap lasbriewe vir haar arrestasie uitgereik is.

Van Staden is deur verskeie mense beskuldig dat sy hul uit geld verkul het in twyfelagtige eiendomstransaksies. Soortgelyke beskuldigings het ook later vanuit ander oorde soos Mamelodi en Secunda gekom.

Sy het destyds gesê dat sy onskuldig by die twyfelagtige transaksies betrek word deur ‘n kollega wat haar identiteit gebruik het om huiskopers om die bos te lei.

Van Staden is reeds vantevore deur die Raad op Eiendomsagentskapaangeleenthede geskors. Talle klaers het destyds kriminele klagtes teen haar geopen. Tot op hede is sy egter nog nie formeel op een van die klagtes aangekla nie.

Lees ook: Annica van Staden slagoffers verloor duisende

• Een van die meer as 16 plaaslike klaers oor eiendomstransaksies het gesê dat die huis uiteindelik op sy naam geregistreer is maar dat hy steeds nie toegang tot die huis het nie omdat daar ander mense bly.

• ‘n Ander slagoffer sê dat hy in 2013 ‘n R30 000 kontant deposito betaal het en sedertdien elke maand R1 500 aan ‘n lening moet afbetaal terwyl hy nooit sy huis gekry het nie. Hy sê dat die finansiële verknorsing hom sy huwelik gekos het. Hy het ‘n saak by die polisie gaan open.

• Nog ‘n ander klaer het daarin geslaag om al haar geld terug te kry. Sy het R60 000 oorbetaal as deposito op ‘n eiendom en by die Raad op Eiendomsagente gaan kla toe dinge skeef loop. Die Raad se getrouheidsfonds het haar vergoed nadat haar klag suksesvol was.

Dit was egter nie net met Van Staden se betrokkenheid by eiendomstransaksies waar sy van ongerymdhede beskuldig is nie.

Lees ook: Van Staden out on bail

• ‘n Sakeman in Lydenburg het ‘n kriminele saak teen haar geopen nadat ‘n transaksie vir skeepsvraghouers wat skeef geloop het hom byna sy besigheid gekos het.

• In die Wes Kaap het ‘n ander sakeman beweer Van Staden het hom uit derduisende rande verkul toe hy voertuie by haar wou koop. Hy het ‘n saak van bedrog en diefstal by die Brackenfell Polisiestasie geopen.

Van Staden is in Augustus 2018 in Ermelo op die aanklag gearresteer en Wes Kaap toe gevat om in die Kuilsrivier hof te verskyn. Sy is later op borg vrygelaat.

• In Middelburg het talle klaers in Desember beweer dat sy hulle ingedoen het met huurdeposito’s. Dit het ook ‘n kriminele klag tot gevolg gehad.

• Vroeg in Mei vanjaar het ‘n man uit Piet Retief gebel. Hy was in ‘n verhouding asook in besigheid met Van Staden en het begin lont ruik toe die een voertuigkooptransaksie na die ander skeef loop. Van Staden is kort daarna gearresteer en aangekla van vervalsing nadat daar na bewering ‘n vervalsde identiteitsboekie by haar gekry is.

Lees ook: Omstrede voormalige eiendomsagent gearresteer

Kaptein FC van Wyk, Wes Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat daar tans ‘n lasbrief uit is vir haar arrestasie omdat sy, nadat sy in 2018 by die Kuilsrivier Landdroshof op borg vrygelaat is, nooit weer vir ‘n hofdatum opgedaag het nie.

Die inligting, sowel as die Brackenfell saaknommer is aan die polisie in Piet Retief verskaf die dag van Van Staden se arrestasie. Dit blyk nou dat die inligting nooit opgevolg is nie en Van Staden is ook in Piet Retief op borg vrygelaat. Sy moes verlede Vrydag, 21 Junie weer in die hof verskyn.

www.mobserver.co.za kon egter by die eMkondo Landdroshof bevestig dat Van Staden nie vir haar hofverskyning opgedaag het nie en dat daar reeds ‘n lasbrief vir haar arrestasie uitgereik is. Die klerk van die hof het gesê dat Van Staden tot 5 Julie het om in die hof te verskyn voor haar borggeld finaal aan die staat verbeurd verklaar word.

Kaptein Van Wyk sê dat enige iemand wat weet waar Van Staden haar bevind, die ondersoekbeampte by Brackenfell, adjudant offisier Theo Coetzee kan bel by 021 983 1940.

 

 

Lees ook:

Net R500 borg vir vermeende plaasaanvallers

Haweloses die teiken van sadiste

Mans in glimbaadjies agtervolg vrou

 

 

Soek jy nuus op ’n drafstap?

Stoor ons bystand nommer (072 248 3855) en stuur ons ‘n Whatsapp boodskap met die woorde “Add me” om deel te word van ons uitsaailys.

“Like” ons op Facebook, of volg ons op Twitter en Instagram.

Volg ons YouTube kanaal.

Kliek op die skakel om te registreer om ons nuusbrief met die jongste nuus per e-pos te kry

Het julle vir ons ’n storie?

Kontak die redaksie op ons 24 uur bystandnommer 072 248 3855, of stuur ‘n e-pos aan ons redakteur tobie@mobserver.co.za

 

Jana Boshoff

Award-winning community news journalist with over a decade's newsroom experience. Passionate about hard-hitting news stories!
 
Back to top button