News

Seun (9) takel ontvoerder wat tweejarige in Middelburg uit kar gryp

Staan opsy Bokke, daar is ’n nuwe held in die land.

Klein Nathan van Niekerk (9) bulder “cool” toe www.mobserver.co.za hom Donderdag vertel dat hy Suid-Afrika se nuutste internetsensasie is, nadat hy sy tweejarige kleinboet Woensdagaand uit die kloue van ’n ontvoerder in die middedorp gered het.

Die voorval het omstreeks 18:30 gebeur, kort nadat die polisie in dieselfde omgewing besighede gesluit het. Ma Lizette en haar kroos, Nathan en Raygan (2), was op pad huiswaarts in Walter Sisulustraat toe die ontvoerder toeslaan.

Terwyl sy in die binnebaan gewag het vir die verkeerslig om groen te word, het Lizette opgemerk hoe ’n verdagte man nader aan haar werkbakkie beweeg. Die bakkie is toegerus met ’n paneelbordkamera wat die angswekkende oomblik toe Raygan van die sitplek af gegryp is, opgeneem het.

In die kameramateriaal kan gehoor word hoe Lizette vir Nathan waarsku, “hier kom ’n skelm, pasop hier kom hy,” waarna bloedstollende gille gehoor kan word, wanneer die man die peuter gryp.

(Alhoewel www.mobserver.co.za aanvanklik besluit het om uit respek vir die familie nie die video te gebruik nie, word dit nou met toestemming van die Van Niekerks geplaas.)

Nathan sit die booswig dadelik agterna. “Ek het hom aanhou slaan met die vuiste,” het hy Donderdag grootoog vertel.

Die manhaftige nege-jarige het die ontvoerder toegetakel, wat steeds vir Raygan in sy greep gehad het, tot hy die peuter soos ’n skroplap in die straat gegooi het.

Nathan onthou die vriendelike tannie, Doret Smit, wat hulle dadelik te hulp gesnel het toe sy sien wat gebeur.

Die misdaadtoneel.

“Ek het my boetie en die opgetel en in die bakkie terug gesit, terwyl my ma die ontvoerder gejaag het”.

Me. Smit het by die kinders gewaak terwyl Lizette haar trouring na die ander hand geskuif het “want ek wou vir hom bliksem!”.

Met Krav Maga selfverdedigingslesse agter die rug, was Lizette reg vir ’n konfrontasie.
Die ontvoerder was egter gewapen met ’n slagmes en het gedreig “I’ll f****** kill you”.

Die polisie was kort hierna op die toneel waar hulle Lizette opgetel en Irak taxistaanplek toe gevat het om die man te gaan soek.

“Ek sal hom altyd herken,” sê Lizette.

https://www.citizen.co.za/middelburg-observer/105130/klankgreep-ma-gil-los-kind-toe-man-met-mes-haar-kleuter-gryp/

Bekommerd oor die kinders, wou sy egter met alle geweld terug kar toe, en die polisie het haar toe alleen uit die taxistaanplek laat loop, terug na haar histeriese kroos toe.

Nathan sê dat sy maatjies hom Donderdag as held by die skool ontvang het, hoewel daar hier en daar ’n traantjie was – “trane van blydskap,” herinner www.mobserver.co.za hom.

Die negejarige se heldhaftigheid word landwyd besing, nadat hul ouma die paneelbordkamera-materiaal op sosiale media gedeel het om Middelburg inwoners van die misdaadgevaar te waarsku.

“Ons het nie verwag dat dit so ver sou gaan nie,” is die familie dit eens. Lizette sê haar foon lui onophoudelik “maar ons is okay, ons is paraat”.

Klein Raygan het gelukkig net skrapies in die voorval opgedoen.

•Nadat Lizette gekritiseer is op sosiale media dat haar kind in ’n karstoeltjie vasgemaak moes wees, het sy gesê dat sy in ’n “club-cab” bakkie was en dat dié tipe bakkies dit onmoontlik maak om so stoeltjie te gebruik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Check Also
Close
Back to top button