News

Suid-Afrikaners terug van Maldives

Die Suid-Afrikaners wat in Maldives vasgekeer was as gevolg van die Covid-19 epidemie se wêreldwye inperkings, is terug op eie bodem.

Emmerentia van der Merwe het verlede week moue opgetrek om te help om haar vluginstrukteur, Rudolf Lubbe en sowat 40 ander Suid-Afrikaners wat op die eiland vasgekeer was, by die huis te kry.

Mnr. Lubbe het met www.mobserver.co.za vanuit Maldives gepraat en gesê dat daar talle struikelblokke was om by die huis te kom. Eerstens sou hulle geen finansiële bystand van die Suid-Afrikaanse regering ontvang nie.

Die Maldives regering het vir hulle ’n vliegtuig beskikbaar gestel, maar dit sou hulle sowat R2 miljoen kos om by die huis te kom. Landsburgers van Mauritius sou help betaal aan die kostes, as die vliegtuig op Mauritius kon stop om hulle af te laai. Mauritius wou eers nie toestemming gee nie wat die Suid-Afrikaners met ’n R300 000 korting gelaat het.

Daar was van die Suid-Afrikaners wat nie kon bydra tot die vliegtuig nie en noodgedwonge op die eiland sou agter bly. Ander Suid-Afrikaners het gesê dat hulle eerder hul lot daar sou aanvaar, omdat hulle skepties was oor die kondisies van kwarantyn as hulle in Suid-Afrika sou land.

Nadat Mauritius onverwags toestemming gegee het, het dinge blitsvinnig gebeur. Talle skenkings is ontvang, soos iemand wat anoniem $5 000 geskenk het, wat die vlug moontlik gemaak het. Die Maldives regering het ’n vliegtuig vir 11 April beskikbaar gestel en het vier spanne bemanningslede beskikbaar gestel, omdat hulle nêrens sou kon afklim nie en mekaar sou moes aflos.

Mnr. Lubbe sê dat 50 mense, 40 Suid-Afrikaners en 10 landsburgers van Mauritius, op die vlug was. Daar het vier Suid-Afrikaners in Maldives agter gebly uit eie keuse, terwyl ses Suid-Afrikaners te laat aangedui het dat hulle skielik van plan verander het en op die nippertjie wou saam terug vlieg. Dit was egter nie moontlik nie omdat die passasierslys toe klaar gefinaliseer is.

Met hul aankoms in Johannesburg is al die passasiers op die vliegtuig se temperatuur geneem, waarna hulle na ’n kwarantyn fasiliteit in Midrand vervoer is.

Lees ook: Vasgekeer op eiland paradys

Mnr. Lubbe sê dat alhoewel al die mense skouer aan skouer op die vliegtuig gesit het, hulle net agt per 23 sitplek bussie toegelaat is en daar dus vyf busse was om hul op te laai.

By die kwarantyn fasiliteit is hulle vir Covid-19 getoets. Hulle mag glad nie uit hulle kamers nie en hul temperatuur word twee maal per dag geneem. Hy sê dat paartjies saam in ’n kamer bly, maar alleenlopers soos hy bly alleen.

Om die tyd om te kry slaap hy, kyk flieks op sy skootrekenaar of luister na musiek op sy foon.

“Ek het ’n mooi uitsig en het nou al vir die springbokkies wat tot voor my kamer loop begin name gee en grappies vertel.” Hy sê dat die kos skaflik is (hulle het Dinsdagoggend roereier, spek en roosterbrood gekry) en dat hulle maskers dra as hul kos by hul kamers afgelewer word.

Mnr. Lubbe sê hulle sal in kwarantyn moet bly tot hul uitslae bekend is, waarna hulle toegelaat sal word om na hul onderskeie huise te gaan as hulle negatief toets. Hy sê dat daar daagliks mense aankom.

Sodra hy die groen lig kry, sal mnr. Lubbe hom by sy familie op hul plaas naby Bela Bela (Warmbad) aansluit.
Hy bedank almal vir hul bydrae wat dit moontlik gemaak het vir hulle om terug in Suid-Afrika te kom.

“As alles verby is, gaan ek almal wat geld inbetaal het opspoor en uitnooi vir ’n braai,” sê mnr. Lubbe.

Hy sê dat alhoewel daar baie mense is wat bedank moet word, daar ’n paar is wat baie agter die skerms betrokke was om hulle terug by die huis te kry.

Madeleine Hicklin, Darren Bergman en Willie Auckamp van die DA en Johannes van Niekerk by die Suid-Afrikaanse konsulaat in Sri Lanka is die groep se helde, omdat hulle weet hoe hard hulle gewerk het om hulle terug in Suid- Afrika te kry.

• Kort nadat mnr. Lubbe met www.mobserver.co.za gepraat het, is hy in kennis gestel dat hy negatief getoets het en toegelaat sal word om huistoe te gaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button