Oud Blou Bul agsteman in hotelkamertjie vasgekeer
Terwyl ’n groep Suid-Afrikaners van Maldives reeds terug is by die huis, nadat hulle vir drie dae in kwarantyn in Midrand was, sit sowat 38 Suid-Afrikaners wat op die Costa Luminosa plesierskip was, steeds vasgekluister in hotelkamers in Rome.

Vriende Hendry en Susan van Tonder en Eugene en Leana Marais, het aan die einde van Februarie op die Costa Lumniosa in Fort Lauderdale, Amerika, geklim vir ’n plesierrit wat in Rome, Italië, sou eindig. Die plesierrit het in ’n nagmerrie ontaard, wat weier om op te hou.
Van Tonder het vir Noord-Transvaal en Suidoos-Transvaal op agsteman gesak.
Probleme het begin nadat ’n paar passasiers op die skip positief getoets het vir Covid-19. Die eerste man, ’n Italiaanse burger, is op 29 Februarie in die Kaaiman eilande afgelaai, nadat hy ’n beroerte gekry het. Hy het later positief getoets vir Covid-19 en is op 14 Maart oorlede.
Lees ook: Suid Afrikaners terug van Maldives
Van 15 Maart af is alle gaste op die skip tot hul slaapkajuite beperk. Hulle is by talle hawens weggewys en het uiteindelik in Rome afgeklim, waar hulle sedertdien in die iH Z3 hotel bly. Hulle mag glad nie hul hotelkamers verlaat nie.
Reëlings deur Costa, die plesierskipmaatskappy, om die groep Suid-Afrikaners by die huis te kry, word elke keer uitgestel.
Volgens inligting van ’n persoon wat kontak het met die familie maar nie haar naam genoem wil hê nie, sou hulle verlede week en toe weer hierdie Vrydag na Suid-Afrika vlieg. Hulle is egter Dinsdag ingelig dat Vrydag se vlug vir die soveelste keer gekanselleer is.
Hul families in Suid-Afrika is stomgeslaan. Al die passasiers is vir Covid-19 getoets maar hulle het steeds nie toegang tot hul uitslae nie. Die families voel ook dat hulle geen ondersteuning van die Suid-Afrikaanse regering kry nie.
Lees ook: Vasgekeer op eiland paradys
In ’n brief wat die Middelburg Observer gesien het, sê die skeepsmaatskappy dat hulle met gesondheidsowerhede saamwerk om die groep wat in die hotel bly, wat ook landsburgers van Mauritius, Australië en Nederland insluit, se gesondheid te monitor en die mees gepasde omstandighede te waarborg vir hulle om terug huistoe te reis, maar dat dit gaan tyd neem.
Die maatskappy sê dat lug- en landverkeer tans ingewikkeld is as gevolg van ingestelde beperkings. Hulle sê dat hulle in kontak met ambassades en konsulate om burgers weer by hul lande te kry, maar dat die beperkings reëlings bemoeilik.
Kos en verblyf word deur die maatskappy betaal en hulle het ook sielkundiges beskikbaar gestel wat telefonies gekontak kan word. Die Suid-Afrikaners kla oor die kwaliteit van die kos. ’n Familievriend van die Van Tonders het ’n kans gevat en vir hulle twee hamburgers deur middel van Uber Eats bestel. Dit het hulle R800 uit die sak gejaag. Die mense wat in die hotel bly mag egter nie self vir hulle kos van buite bestel nie.
Die feit dat hulle glad nie hul hotelkamers kan verlaat nie, nie eens om bietjie sonlig te kry nie, het ’n groot impak op die groep se gemoed.
Susan van Tonder het op Facebook gesê sy kan nie verstaan hoe die lugredery en toeragentskap waardeur hulle gewerk het, en wat ten volle betaal is, net hul geld kan vat, hul vlugte kanselleer en hulle gestrand in Rome los nie.
Costa het nie op media navrae gereageer nie.
