Wêreldbeker wenkombinasie dalk weer op Loftus verenig
Dr Henning Gericke bly nou wel nie in die Hotel 224 nie, maar hy bly naby genoeg aan Loftus Versfeld om sommer oor te stap na die Blou Bulle hoofkwartier toe. En met Jake White in beheer op Loftus is die logiese uitvloeisel ’n White/Gericke wenkombinasie.
Wenkombinasie? Jy kan nie stry teen ’n wêreldbeker nie!
Die twee het in 2007 saamgespan om John Smit se span na wêreldbekerglorie te lei.
Die Blou Bulle president, Willem Strauss, het bevestig daar is gesprekke tussen White en Gericke en dat die oud Bokafrigter ’n mandaat het om sy bestuurspan saam te stel. Met die huidige inperking het alle onderhandelinge egter tot stilstand gekom

Dr Gericke is ’n Blou Bul in murg en been en het vir die destydse Noord-Transvaal laerskole as kaptein op flank uitgedraf, in ’n span waar Uli Schmidt die skrumskakel was. Hy het sy skoolloopbaan aan Laerskool en Hoërskool Menlopark voltooi en bekend geword as een van die beste middelafstand atlete wat die land opgelewer het.
In 1997 het die Strauss, toe Mpumalanga Rugby-unie se uitvoerende hoof, dr Gericke by die Puma rugbyspan betrek, waar hy groot sukses behaal het. Hy het ’n groot rol gespeel as motiveerder toe die Pumas die Blou Bulle in die Sailbeker eindstryd in Port Elizabeth geklop het.
Die span is gebrei deur twee skole afrigters, Poerie van Rooyen en Chris Grobler toe dr Gericke betrokke geraak het. Grobler het in 1991 as afrigter van HTS Middelburg die Direkteurstrofee eindstryd teen Menlopark gewen en het later voortgegaan om die Pumas alleen af te rig.

Dit is bekend dat Strauss dr Gericke hoog aanslaan, terwyl die 2007 span, waar hy die kopdokter was, groot lof vir hom het. Hy het nogsteeds kontak met daardie span se spelers.
By navraag het dr Gericke gesê hy en White was al in gesprek en dat hy nog ’n besluit moet neem, nadat hy die laaste paar jaar ’n verskil in die korporatiewe wêreld gemaak het.
Wanneer rugby na Loftus terugkeer, kan die wêreldbeker wenners van White en Gericke dalk net weer vir glorie sorg en die Blou Bul ondersteuners se gejuig tot in die Hotel 224 gehoor word.
