Die vergete haweloses in die ‘pienk huis’
Wind en reën deur vensters sonder ruite is nie so erg soos hongerpyne wat aan jou maag knaag nie.
Janine Olivier se hart wil breek wanneer sy elke dag ’n paar snytjies brood vir 10 haweloses gaan gee in ’n vervalle gebou in Framestraat (Sentrale Sakegebied), wat sy die “Pienk Huis” noem.
“Ek het niks meer oor nie. Ek gee elke dag wat ek in die hande kan kry. Gister was daar darem vir elkeen een snytjie polonie saam met droeë brood. Vanoggend (Woensdag) het ek ’n pakkie groente gekry en hulle gaan sop kry. Maar ek weet nie wat ek more vir hulle gaan gee nie.”

Me. Olivier is die groep, wat meestal bestaan uit dwelmverslaafdes, se Florence Nightingale, want as sy nie elke dag iets bring om te eet nie, gaan hulle sterf van die honger.
“En hulle wil nie gaan na die plek vir haweloses wat die munisipaliteit tans hanteer nie.”

Sy wéét die meeste van hulle is verslaafdes, “maar hulle moet steeds eet. Hulle is nie druglords nie, hulle is afhanklikes wat tog kos moet kry.”
Me. Olivier, wat aan die stuur staan van die “Reason to Believe” organisasie staan, sorg al baie lank vir haweloses, waaronder ook dié mense wat in die Pienk Huis bly.

Terwyl sy haar eie eenmansaak wegneem-ete bedryf gehad het, kon sy gereeld beter kos voorsien. Maar nou het sy self geen inkomste nie en gaan dit broekskeur. Sy weier om dié groep mense aan hul eie lot oor te laat.
“Gister kon ek vir hulle net twee rolletjies toiletpapier tussen 10 mense gee. Maar hulle weet ek sal hulle nooit vergeet nie.”

Daar is nie elektrisiteit of behoorlike lopende water nie. Uit ’n dun pypie langs die huis, loop daar ’n straaltjie water, waarmee hulle bad en die ergste dors les. Dit neem ’n uur om een vyf liter waterhouer vol te maak.
•Persone wat me. Olivier wil ondersteun, kan haar bel by 082 646 9343.
