Erlo veilig tuis uit Maldives
Die laaste 11 van ’n groep van 40 Suid-Afrikaners wat 11 April vanuit Maldives geland het, is uit kwarantyn.

Daar is berig oor die groep, waaronder Suid-Afrikaanse vlieëniers wat in die Maldives gewerk het, se gespook om tydens die grendeltydperk by die huis te kom. Die Covid-19 pandemie het die wêreld ekonomie tot stilstand gedwing en die Maldives eilande, wat hierdie tyd van die jaar gewoonlik sy piek vakansietyd bereik, het geen besoekers ontvang nie.
Met fondse van skenkers, persoonlike bydraes en hulp van die vlieëniers se werkgewer kon die Suid- Afrikaners uiteindelik huistoe kom.
Hulle is na ’n kwarantyn fasiliteit in Midrand geneem waar hulle moes wag op hul Covid-19 toetsuitslae voordat hulle na hul families kon gaan. Verlede week is 29 van die groep die groen lig gegee terwyl 11, wie se toetse onbeduidend was, moes aanbly.
Een van die 11 was Erlo Eksteen, seun van plaaslike dokter Deon Eksteen en sy vrou Rindia.
Me. Eksteen sê dat haar seun se tweede toetsuitslag ook onbeduidend was. Hulle was nog besig om te probeer reël dat hy verder in self-isolasie bly in afwagting vir sy derde toets se uitslag, toe hulle ingelig is dat die groep almal negatief getoets het en toestemming het om huistoe te gaan.
Die jong mnr. Eksteen, wat ook as vlieënier in Maldives gewerk het, is sedert die afgelope naweek by die huis.
Lees vorige stories hier:
Suid Afrikaners terug uit Maldives
Elf van Maldives groep steeds in kwarantyn
