Terug uit Rome na vakansie nagmerrie
Met Toto se treffer, Africa, wat oor die vliegtuig se luidsprekers weergalm, en bemanningslede in wit beskermende pakke wat in die gange af dans, is ’n groep Suid-Afrikaners wat vir weke in Rome vasgekeer was, terug huistoe gevlieg. Die oomblik is op video vasgevang.
Die Van Tonder en Marais egpare is deel van die groep wat op 18 April terug na Suid-Afrika gevlieg het.
Hendry en Susan van Tonder en Eugene en Leana Marais het in Februarie op ’n plesierskip in Amerika geklim, wat eers langs die Karibiese kus af en daarna na Europa gevaar het, waar hulle in Rome sou afklim. Dinge het egter skeef geloop nadat passasiers van die skip positief getoets het vir Covid-19 middel Maart.
In Europa is die skip by talle hawens weggewys. Hulle is uiteindelik toegelaat om by hul eindbestemming in Rome, onder streng voorwaardes, af te klim.
Die Costa groep het in antwoord op medianavrae gesê dat daar 180 gaste van die Luminosa in ’n hotel in Rome gehuisves is. Die gaste was tot hul kamers beperk.
Die maatskappy sê dat hulle pogings om al die gaste terug by die huis te kry, bemoeilik is deur talle lande se verbod op reis, die beskikbaarheid van vliegtuie en die Italiaanse regering se gesondheidsregulasies.
Die groep Suid-Afrikaners is na talle gekanselleerde vlugte uiteindelik Vrydag lughawe toe. Nadat hul vlug vir ’n paar uur vertraag is, het hul vroeg Saterdagoggend die tog terug Suid-Afrika toe aangepak.
Die bemanningslede se verwelkoming op die maat van Toto se Africa is op video vasgevang en deur een van die bemanningslede of Facebook gedeel.
https://www.facebook.com/audrey.poulton.98/videos/10156833068390966/
Lees vorige stories hier:
Oud Blou Bul agsteman in hotelkamertjie vasgekeer
