News

Bakkery gesluit oor vetkoeke – Nasaret gemeenskap lei onder permit oortredings

Inwoners van Nasaret en Uitbreiding 24 voel dat hulle belange misken word, omdat daar nie ’n enkele spaza-winkel of enige ander winkel in hul direkte omgewing oop is vir noodsaaklikhede nie.

Die naaste winkels waar dié inwoners hul koskaste kan opvul is Hlalamnandi en die Middelburg Mall. Hlalamnandi se keuse op kruideniers is beperk, terwyl vervoer na winkels inwoners onnodiglik geld uit die sak jaag.

“Vir die basiese soos brood en melk, betaal ons nou dubbel omdat ons openbare vervoer moet gebruik om winkels te besoek,” kla een van die inwoners.

’n Ander sê dat vars groente en vrugte ook nie gekry kan word nie, omdat alle winkeltjies wat dit verkoop het, toe staan.

“Selfs die groot winkels is toe, ons sukkel reeds om te oorleef, nou moet ons nog geld van ons maaltye vat om vervoer te dek,” sê een van die groep inwoners waarmee www.mobserver.co.za gepraat het.

Geriefswinkels en smouse kan steeds aansoek doen vir permitte gedurende nasionale afsondering, het burgemeester Bagudi Tolo verlede week bevestig.

Daar is egter streng regulasies deur die regering aangekondig om tuiswinkels, spaza-winkels en smouse te reguleer, maar permitte vir kosverkope word nog daagliks deur die munisipaliteit uitgereik.

Die probleem is egter dat permithouers nie die reëls nakom nie, dan word besigheide gesluit.

“Regulasies behels dat die permithouer besigheid mag doen, maar die mense agter die toonbanke is selde die permithouers of buitelanders,” verduidelik me. Prudence Magutle.

In Nasaret is handelaars en spaza-winkels vir dié rede gesluit.

“Tydens inspeksie word werknemers sonder permitte by die winkels gevind, terwyl die winkeleienaar wat ’n permit het tuis sit,” sê me. Magutle.

Suid-Afrikaanse koshandelaars, spaza-winkels en straatsmouse kan weer toestemming by die munisipaliteit kry om handel te dryf, mits daar handel gedryf word met ’n geldige permit deur die persoon in wie se naam die permit uitgereik is.

“Dis ononderhandelbaar” sê me. Magutle.

Een van Mhluzi se handelsmerk bakkerye is na verskeie waarskuwings gesluit, nadat dié reeds bereide vetkoeke verkoop het.
Burgemeester Tolo het tydens ’n perskonferensie herhaal dat geen voorbereide kos verkoop mag word nie.

“Talle straatsmouse word toegemaak omdat hulle kos voorberei,” sê me. Magutle.

Sy sê die munisipaliteit se deur staan oop vir handelaars in Nasaret en Uitbreiding 24 wat streng volgens hul permitvoorwaardes sake doen.

“Dit moet teen die tyd nou al duidelik wees vir die publiek dat daar geen genade is rondom afsonderingsregulasies nie, en dat ons die wet sal toepas,” waarsku me. Magutle

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button