Dit gaan broekskeur by gholfklub
Die setperke is deur die hael stukkend geslaan, die lodges is leeg, die restaurant grafstil en waar gholfspelers elke dag oor 'n goeie hou gespog het, is niemand.
Die Middelburg Buiteklub ly soos die res van die land se gholfklubs onder die nasionale inperking. Die klub moes sy personeel met kospakkies bystaan.
Tot 40 van die land se top gholfklubs staar bankrotskap in die gesig. Die Club Management Association of Southern Africa (CMASA) het ‘n opname onder sy lede gedoen en ‘n donker prentjie word geskilder.
Mnr. Gerrit Smit, bestuurder by die Middelburg Buiteklub, is ‘n eensame figuur by die klub, met al die fasiliteite wat gesluit is – geen tennis, muurbal, rolbal, kroeggeselsies of gholf nie.
Hy sorg saam met baanopsigter, Danny Venter, dat die baan darem in goeie toestand bly, sodat daar gespeel kan word wanneer die inperking verby is.
Die haelstorm wat die dorp getref het, het groot skade aan die setperke aangerig.
Die klubhuis was ook onder water.
Behalwe vir die fasiliteite wat gesluit is, is verskeie konferensies wat by die klub gehou sou word, gekanselleer.
Met verskeie finansiële verpligtinge wat steeds nagekom moet word, gaan dit soos met die res van die land se gholfklubs, broekskeur om die deure oop te hou en daar is reeds aan personeel hulp verleen, deur kospakkies bymekaar te maak.
•By Kranspoort Gholfklub is daar ook geen spel nie. Baanopsigter, Phil Hibbert, sê hulle is wel besig om die baan te onderhou en sal reg wees om besoekers te verwelkom, wanneer die inperking verby is.
