News

Plaasbestuurder moes vertrek deel met 50 ander by polisiestasie

By die Middelburg SAPD, is dit ’n tipiese geval van “bo blink hulle, maar onder stink hulle”.

Dis nie al klagte wat ’n plaaslike boer het, teen die land se wetstoepassers nie.

Eers daag hulle nie op as jy ’n misdaad rapporteer nie. Dan arresteer hulle jou onregmatig, omdat hulle nie self weet hoe die nodige inperkingspermit moet lyk nie.

Jy word deur die polisiestasie gelei waar sosiale afstand toegepas word, na ’n klein vertrek wat jy deel met 50 ander mense. Dan word jy rondgeruk deur verkeersbeamptes, wat jou foon vat en beskadig.

Walter Koyetin, ’n boer in die Duza omgewing, vertel hoe hy tot sy plaasbestuurder se redding moes kom, nadat die verkeersdepartement hom wou arresteer oor sy permit.

Die aanloop tot die arrestasie het reeds twee weke gelede begin, nadat daar sonpanle op die plaas gesteel is.
Die Witbank Polisie is drie keer ontbied, maar het nooit opgedaag nie.

Mnr Koyetin het uiteindelik sy plaasbestuurder gevra om deur te ry na Middelburg, om nuwe sonpanele te koop. Sy bestuurder het die nodige permit by hom gehad .

Op pad terug plaas toe, is hy deur verkeersbeamptes op die N4 voorgekeer.

Hulle het aangedring dat hy polisiestasie toe moet gaan, “want hy het die verkeerde permit”.

Hy is daar in ’n klein kamertjie in gelei, waar 50 ander mense ingedruk was, sonder maskers of enige toepassing van sosiale afstand.

“Toe my bestuurder bel, sê ek hy moet foto’s neem van die vertrek waar hy gewag het. Daar was drie verkeersbeamptes wat die name op hulle kentekens weggesteek, en uitdagend gesê het: ‘Don’t you want to ask for my name so that I can smile for the photo?’ Hulle het hom rondgestamp, sy foon gevat, die foto’s uitgevee en die selfoon op die vloer neergeslinger.”

“Die grootste probleem is die behandeling wat my bestuurder van die verkeersbeamptes ontvang het. Tweedens, die ouens op straat weet self nie hoe ’n permit moet lyk nie en dis die einste permit wat op hulle webtuiste beskikbaar is. Toe ek my permit aan ’n brigadier wys, toe gebruik hy dit as ’n voorbeeld vir die ou langs hom. Maar nie net dit nie, die sosiale afstand in die stasie is ’n show. Voor in die stasie is daar merkers uitgesit om mense te wys waar om te staan, maar agter word almal in een vertrek geprop met geen maskers nie. My bestuurder kon in kontak kom met die virus en dan gaan hy huis toe na sy vrou, en al ons ander werkers.”

Die Middelburg SAPD mediawoordvoerer, kaptein Khanyisile Zwane is gekontak vir terugvoer, maar het nie gereageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Back to top button