
Van vandag (Vrydag) af is dit verpligtend om jou gesigmasker in die openbaar te dra.
’n Goeie ding.
Navorsers het bevind lande waar maskers verpligtend is, het die koronavirus gou vir ’n ses geslaan.
Die probleem is net, gaan mense by die nuwe regulasie hou?
Stap by ’n supermark in waar 50 mense toegelaat word en net sowat 20 dra maskers.
Dit lyk nie asof inwoners hulle veel steur aan die versoek om ’n gesigmasker te dra nie.
Ongelukkig was daar van die begin van die inperking af, verwarrende aannames. Daar was selfs geneeshere wat gesê het om ’n masker te dra is nutteloos.
Gou het mense begin glo die maskerdraery is net ’n foefie.
Logika sê tog dit gaan moeiliker vir die virus wees om jou liggaam binne te dring, wanneer jy ’n masker op het?
Soos die weke aanstap, raak die publiek ook meer gerus oor die virusgevaar, veral omdat daar nog nie ’n geval op die dorp was nie.
Natuurlik stroop die maskers mens van ’n groot klomp emosie. Die lag en glimlag word deesdae agter ’n stuk lap weggesteek.
Die slegte nuus is dat gesigmaskers, soos in Sjina, nog vir lank ons voorland gaan wees.
Inwoners van die week: Hulle wat inspring om kos uit te deel waar die nood so groot is.
Doring van die week: Sorg tog net dat die kos by die regte mense uitkom.
