News

Oud polisieman dood in kamer gekry

Die musikant, rugbyspeler en polisieman, is Saterdagoggend dood in sy kamer gekry in 'n Wesstraat kommune, wat jare gelede aan Kobus Meintjies behoort het

‘n Druppel gal is in die soetste wyn;
‘n traan is op elk’ vrolik’ snaar,
in elke lag ‘n sug van pyn,
in elke roos ‘n dowwe blaar…

Eugene Marais

Piet Jacobs (52) was die roos met ‘n dowwe blaar.

Die musikant, rugbyspeler en polisieman, is Saterdagoggend dood in sy kamer gekry in ‘n Wesstraat kommune, wat jare gelede aan Kobus Meintjies behoort het.

Hy het met sy kop deur ‘n deur geval en hom doodgebloei, nadat ‘n aar in sy nek afgesny is. Dit blyk dat hy oor ‘n mat gestruikel en die deur kop eerste getref het.
Daar was tekens op die toneel dat hy tevergeefs self die bloeding probeer stop het.

In die kamer was daar nog ‘n sakkie met drie teddiebeertjies wat hy vir sy dogtertjie Katelyn (10) as verjaardaggeskenk gekoop het.

As jong polisieman het hy vir ‘n tyd by die video-eenheid van Eenheid 7 gewerk, wat hoofsaaklik gebruik is om onluste af te neem. Hy was ook verbonde aan die Suid-Afrikaanse Narkotika Buro en het as lid van Koevoet op Oshakati diens gedoen.

Met sy ghitaar en rasper stem, was hy dikwels die middelpunt van ‘n partytjie.
Indien hy meer in sy eie vermoë geglo het, kon hy ‘n top musikant geword het.

Na ‘n optrede in die Witbank Stadsteater, voor ‘n vol saal, het inwoners saamgespan en ‘n vertoning vir hom by Botshabelo gereël – ‘n onvergeetlike aand met kaggelvuur en goeie musiek.

As agsteman het hy indruk gemaak by Middelburg Rugbyklub en het ook later vir die Middelburg Ougatte uitgedraf. Terwyl hy by die Potchefstroom Universiteit afgerig het, was hy in ‘n ernstige motorongeluk betrokke, wat byna ‘n hele gesin uitgewis het. Hy was ook drie jaar gelede in ‘n noodlottige motorongeluk op Middelburg betrokke.

Piet Jacobs se lewe het vele draaie gemaak die laaste klompie jare, forensiese ondersoeker, sekuriteitsbeampte, stryd op straat vir oorlewing…
Die roos met ‘n dowwe blaar het deur alles vele mense se harte aangeraak.

‘n Dagboek met die laaste inskrywing op 24 April waarin hy met die Here worstel oor sy druppel gal in die soetste wyn, is die getuigskrif wie die groot beer met die sagte hart eintlik was.

Hy laat sy vrou Jeanné en dogtertjie, Katelyn, agter.

‘n Huldigingsdiens sal gehou word wanneer die inperking verby is.

Verskeie van sy oud Koevoet vriende, wat oorsee is, het laat weet hulle wil graag die diens bywoon.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button