News

My Beurt: Jy wonder waaroor wonder jy

Jy wonder... Jy wonder so baie dat jy wonder waaroor wonder jy.

Met die inperking wonder jy meer.

Wonder verskil natuurlik elke paar jaar.

As baba wonder jy hoe gaan dit moontlik wees om met doek en al van kruipstadium na loopstadium te vorder.

Later wonder jy waar kom babas vandaan, want die storie van “die ooievaar bring hulle” kan nie waar wees nie. Die hadidas wat in die tuin loop is te klein om ’n baba in vlug te dra en ’n ooievaar het jy nog nooit gesien nie.

Laerskooltyd wonder jy oor hoërskool.

Hoërskool wonder jy oor jou loopbaan, aanneme, bestuurderslisensie, die army en eksamens.
Jy wonder oor liefde, dié liefde.

Wanneer jou horlosie op na twaalf staan, wonder jy oor alles wat agter twaalf lê.
Soms wonder jy sommer oor nietighede.

Jy wonder verlede jaar wie was die seuntjie op die foto tussen twee groot slotte se bene wat jy op Loftus Versfeld afgeneem het.

Die raaisel word verrassend opgelos. Die klein fotobommer is Fanie Groenewald, oud joernalistieke dosent aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie se seun Stephan.

Die onbekende seuntjie loer tussen Krynauw en Johan Otto se bene deur, terwyl hulle die skrumskakel, Conrad Breytenbach, optel.

Maar toe wonder jy oor die “AWB seuntjie” wat so kordaat en aanhoudend tydens ’n AWB-optog deur die dorp se strate geskreeu het: “AWB!, AWB!, AWB!”

Die foto het later ’n prys gewen en was op uitstalling by ’n Kaapse koerantkonferensie toe die skrywer, Jeanne Goosen, stomverbaas was oor die jong knaap se politieke indoktrinasie. Aan die einde van die aand het sy gevra of sy die foto kan kry. Weet nou nog nie waarom nie. Nou wonder jy wat het van die foto geword nadat Jeanne oorlede is.

Jy wonder veral wat het van die seuntjie geword?
Koerantmense is vol wonder.

Tot vandag toe wonder jy oor die vrou wat jy in die lykshuis moes gaan uitken, nadat haar naasbestaandes nie navore gekom het nie en Adjudant Uys gevra het jy moet help. Wie het haar op die spoorlyn gegooi agt kilometer buite Witbank? Sal seker nooit weet nie.

Wie het Observer korrespondent, Willie Brase, by Kranspoort doodgeskiet?

Wie het die man vermoor wat in ’n vlak graf gekry is op die Jackaroo plotte?

Wat het van jou laerskool maatjie, Derick van der Merwe, geword?

Jy wonder waar is Jeanette Maclean, jou oud redakteur?

Jy wonder of Johnny Boemelaar dood is. Jy wonder al ses jaar!

Wat het van Frank Sullivan geword wat vir Suidoos-Transvaal teen die Westelike Provinsie gespeel en daarna soos ’n groot speld weg is.

Op Maandag 8 September 1975 klim Gideon Nel op die bus saam met ander Ferrometals fabriekswerkers. Hy daag nie die middag by die huis op nie. Dieselfde maand begin ek by die Witbank Nuus werk. Dit is byna 45 jaar later en Gideon Nel is steeds weg. Jy wonder steeds wat het van hom geword.

’n Skatkis vol wonders…

Donderdag laat weet Kobus Terblanché hy wonder of al die miljarde wat die regering gaan leen het, by die regte mense gaan uitkom.
Ons wonder ook.

Eendag, eendag wanneer jou horlosie gaan staan, sal daar dalk nie meer wonder wees nie.
Of sal daar?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button