Man met mes teen keel gekaap
Die Pullenshope inwoner wat verlede week verdwyn het, is met ’n mes teen die keel gekaap.
Robert Walker het verlede week Woensdagaand soos mis voor die son verdwyn, nadat hy gekaap is toe hy gou inkopies wou gaan doen.
Robert was die aand besig om ’n maaltyd te kook, omdat sy vrou, Rika, as noodsaaklike dienste werker besig was.
Sy het die aand by die huis gekom, en saam met hom in die kombuis gaan sit terwyl hy kook, toe hy gou winkels toe ry om iets te koop. Hy het die kospotte in haar sorg gelaat, en die hek na hulle erf ook oopgelos, want hy was van plan om vinnig terug te wees.
Toe hy by die huis uit is, is hy deur twee gewapende mans in balaclavas oorval.
Lees ook: Pullenshope man disappears, family pleads for help
Die twee mans het by sy voertuig ingeklim en ’n mes teen sy keel gehou, waarop hulle aangedring het dat hy Hendrina toe moes ry.
Hulle het in Hendrina ’n paar bokse in sy voertuig gelaai, en toe aangedring dat hy hulle Delmas toe moes vat.
Robert het vir hulle gesê dat hy nie genoeg geld of brandstof het om Delmas toe te ry nie en hulle het hom gedwing om na Kriel te ry.
Op Kriel, het hulle hom aangehou, terwyl hulle gewag het vir ’n ander voertuig. Die bokse is in die ander voertuig oorgeplaas, en hulle het hom en sy voertuig agter gelaat.
Rika, wat intussen gery het opsoek na hom, het desperaat sy familie gebel.
Lees ook: Missing Pullenshope man found after hijacking
Sy het hom die volgende oggend vroeg as vermis aangemeld, en teen 09:00, het Robert se ma, wat in Emhalaleni woon, haar gebel om te laat weet dat Robert by haar is.
Robert het toe die kapers hom agterlaat in Kriel, direk na sy ma toe gery, uit die vrees dat hulle sy voertuig dalk op die pad terug sou sien.
Rika vertel dat hoewel Robert groot geskrik het, is hy gelukkig nie aangerand of beseer nie.
“Hy het sy volle samewerking gegee en gemaak soos hulle sê.”
Daar was oorweldigende ondersteuning uit die gemeenskap.
“Talle klein boeregemeenskappies vanaf Bethal en Hendrina het my gekontak en verseker dat hulle op die uitkyk is vir Robert en sy voertuig. Ek wil veral vir Hendrik, DJ, Ettienne, Deon en Lee, baie dankie sê vir hulle hulp en ondersteuning. Hulle het die hele nag saam met my gewag en ek kan nie genoeg dankie sê nie.”
