Toe die mense verdwyn, daag die diere op
Wanneer die kat weg is, is die muis baas en wanneer mense by die huis bly, is die diere baas.

Met inperking wat wêreldwyd toegepas word, staan die mensdom verstom met die diereryk wat opdaag daar waar mense net nou die dag die septer geswaai het.
Duisende flaminke het na Mumbai in Indië gevlieg en word op plekke gesien waar hulle nooit voorheen was nie. Bokke het in die strate van Llandudno in Wallis ingevaar, omdat daar nie karre en mense is nie en in Israel is ’n jakkals gesien waar hy aan afval geknaag het. In ons eie nasionale Kruger Wildtuin lê die leeus luilekker in die teerpad en op gholfbane wemel dit van die wild.

En toe daag ’n gans by die Middelburg Observer se kantore op en skop ’n hengse kabaal op toe die eerste joernaliste by die kantoor opdaag.
By Van Rooyen Diesel is ’n trop beeste by die ingang afgeneem.

’n Koedoebul het Sondag trots in die kampterrein by De Voetpadkloof gepronk, waar vakansiegangers ’n paar weke gelede gekuier het.
Rooibokke, blesbokke en selfs ’n troppie zebras is al in die kamp gesien.